| | |

COVID-19-impak: Die nood is groot en hou aan styg

Terwyl party mense in hierdie tyd van inperking wel genoeg kos en ander benodighede het om gemaklik te leef, is dit beslis nie die geval vir talle ander nie.

Dr. Johan Böning van Solidariteit Helpende Hand sê 782 behoeftige gesinne is van 4–10 April met kos en handreinigers gehelp en 74 instellings is bygestaan. “Die nood bly enorm. In Welkom is daar in net een straat 46 gesinne wat ’n behoefte het aan ’n noodkospakkie. So ook is ons in kennis gestel dat daar ’n groot behoefte in byvoorbeeld East Lynne en Jan Niemand Park in Pretoria is.” Böning het ook die boere en publiek bedank vir hul ondersteuning tot dusver.

Veral kwesbare bejaardes, maar ook baie gesinne en individue, sukkel in hierdie tyd om kop bo water te hou terwyl hulle nie kan werk nie. Vir baie mense lê dit nog voor en die ekonomiese impak gaan gemeenskappe swaar in die komende maande tref.

“Mense het nie geld om lank vooruit te beplan nie en lewe in hierdie stadium van hand-tot-mond. In die tweede week van die inperking het ons al mense gekry wat ons om hulp nader terwyl ons dit eers later verwag het,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld.

Volgens Bekker wend mense hulle tot desperate praktyke om bloot kos in die hande te kry. “Ons het nou al gesien dat mense op sekere plekke visvang en dit verkoop om geld in die hande te kry. Hulle is intussen verbied om dit te doen en dit laat hulle in ’n uiters moeilike posisie wat die verkryging van noodsaaklikhede betref. Ons het in sulke situasies begin om met organisasies soos Solidariteit Helpende Hand, Saai en ander hande te vat sodat ons die verspreiding van voedsel en ander benodighede kan koördineer sodat een plek nie te veel en ander te min het nie. Daar kom daagliks meer rolspelers na vore wat graag ’n bydrae wil maak.”

Dit is belangrik dat bestaande instansies wat armoede verlig en byvoorbeeld voedselverskaffing doen, se bestaande netwerke versterk word. Dit is daarom dat AfriForum en Saai ’n verspreidingsnetwerk van stapel stuur om behoeftiges te help. Dit is egter belangrik dat die wiel nie herontwerp word nie, maar dat bestaande, goed gevestigde netwerke soos dié van Solidariteit Helpende Hand eerder versterk en gehelp word om meer logistieke en vervoervermoëns op grondvlak te verseker.

Bekker sê voorts prysstygings speel ook ’n rol. “Soms is dit subtiele stygings, maar mense is genoodsaak om goedere teen veel duurder pryse aan te koop. Hulle moet ook goedere wat hulle nie gewoonlik aankoop nie, soos handreiniger en maskers, nou ten duurste en in groter hoeveelhede aankoop. Dit laat hulle uiteraard met minder besteebare inkomste.”

Volgens hom is ouetehuise nou ’n uitdaging. “Tehuise vir bejaardes in Witrivier en Bethal ervaar byvoorbeeld tans ’n gebrek aan maskers en handreinigers. Weens die huidige onsekerheid is mense versigtig om donasies aan ouetehuise te maak en die logistiek van die aflewering van skenkings is ook ’n geweldige uitdaging vir gewone mense in hierdie tyd.”

AfriForum het takke en buurtwagte in talle dorpe en stede regoor die land en staan reeds mense by met die verspreiding van onder meer gesigmaskers, handreinigers en selfs voedsel.

“Helpende Hand se strukture is reeds gevestig en die feit dat ons hande vat met AfriForum en Saai verseker dat drie sterk instansies saamstaan om hoop te skep binne hierdie strukture. Gedurende hierdie moeilike tye is Helpende Hand se Josef Silo’s ’n reddingsboei vir talle behoeftige persone. Daar is reeds meer as 70 Josef Silo’s regoor die land gevestig. Die bedrag wat tot dusver binne die Josef Silo’s-projek ontvang is, is byna R2 miljoen en Helpende Hand kon die afgelope twee weke reeds honderde gesinne en instansies soos tehuise vir bejaardes en kinderhuise van kos voorsien,” sê René Roux, adjunk- uitvoerende hoof van Kommunikasie by Solidariteit Helpende Hand.

Jy kan help om ons hande te versterk deur ’n donasie te maak by https://bit.ly/TakFnds of voedsel aan Solidariteit Helpende Hand te skenk.

Soortgelyke plasings