Header Artwork
COVID-19 en skole: Moeilike keuses wag

Deur dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir Gemeenskapsake by AfriForum

Een van die mees kontensieuse inperkingskwessies wêreldwyd is die sluiting en heropening van skole.

Skole is bymekaarkomplekke van groot hoeveelhede mense. Hulle is egter ook plekke van formele onderrig en ander didaktiese aktiwiteite, en vervul ’n kritieke rol in enige samelewing omdat hulle enjins van kennis en karakter-slyping is.

Baie Suid-Afrikaanse skole het in hierdie periode mildelik van tegnologie soos YouTube-video’s en WhatsApp-groepe gebruik gemaak om onderrig en kommunikasie aan die gang te hou. Dit is weliswaar ’n seën dat hierdie middele tot ouers, leerders en onderwysers se beskikking is in hierdie tyd.

Soos met werksplekke en feitlik elke ander sektor en forum, moet daar ’n balans getref word tussen veiligheid van die leerders en leerkragte enersyds, asook onderrig, leer en buitemuurse aktiwiteite andersyds. Suid-Afrika is nie die enigste land wat met hierdie delikate balanseertoertjie worstel nie en dit blyk dat die hele wêreld uiters behoedsaam is wat die veiligheid en gesondheid by skole betref. Skole is immers daaglikse vergaderplekke met hoë verkeer en kinders en personeel, wat dit dan verlaat – net om die volgende dag terug te keer van verskillende plekke af.

Volgens Unesco, die Verenigde Nasies (VN) se organisasie belas met onderwys, het inperkingsmaatreëls daartoe gelei dat skole vir 90% van die leerderbevolking ter wêreld in 186 lande gesluit is. Die Wêreld Ekonomiese Forum (WEF) voer aan dat ’n handvol lande nou begin het om skole te heropen. Nuwe veiligheidsmaatreëls wissel van die oophou van vensters om ventilasie te bevorder tot die spasiëring van tafels sowat 2 m uit mekaar en die hervat van klasse vir kinders van ’n sekere ouderdom.

Volgens Unicef, die VN se Kinderfonds, is sowat 127 miljoen kinders in die suidelike en oostelike streke van Afrika steeds by die huis. Terwyl aanlyn middele in ander wêrelddele ingespan kan word om leer te fasiliteer, is internet-penetrasie en elektrisiteitsvoorsiening – veral op die platteland waar die meeste leerders in hierdie streke van Afrika woon – baie laag.

Ondanks hulp deur Unicef is leer steeds onmoontlik vir miljoene kinders en beteken die inperking ook dat hulle nie die daaglikse kos kry wat hulle gewoonlik by die skool kry nie. Dit geld selfs vir groter en ryker lande soos Suid-Afrika en Kenia, asook armer en kleiner lande soos Zimbabwe en Malawi.

In China, die plek van oorsprong van die virus, het 200 miljoen leerders in Februarie aanlyn begin skoolgaan. Die opheffing van die inperking het ’n geleidelike en trae heropening van die skole tot gevolg gehad. Party skole het reeds vroeg in April oopgemaak, maar die meeste skole in groter streke bly steeds toe.

China se Departement van Onderwys vereis onder meer dat leerders se temperatuur by skoolingange nagegaan word.

In Japan het die nasionale regering skoolsluitings op 2 Maart aangekondig. Op 24 Maart het die land dit aan plaaslike owerhede oorgelaat om te besluit of skole moet heropen. Sowat 40% van die skole het wel heropen – ten spyte van die noodtoestand wat op 16 April aangekondig is en waarskynlik weer in Mei verleng gaan word.

In Europa het Denemarke skole op 16 Maart gesluit voordat enige sterftes aangeteken is. Hulle het onlangs in reaksie op ’n dalende infeksiekoers besluit om hul jongste leerders weer terug te stuur skool toe. Tafels moet sowat 2 m van mekaar af wees en leerders word drupsgewys toegelaat om terug te keer. Hoërskole bly egter steeds gesluit.

Noorweë het ook begin om kinders tussen graad 1 en 4 terug te stuur skool toe ná die betreklik vroeë sluiting van skole in Maart. Skole is byvoorbeeld aangemoedig om slegs klasse van nie groter nie as 15 leerders toe te laat, en seker te maak die kinders was daagliks hul tafels.

Duitsland het die oudste hoërskoolleerders op 20 April toegelaat om terug te keer skool toe om hul finale eksamen af te lê. Die meeste skole bly egter steeds gesluit, maar dit kan van nou af begin verander ná aanbevelings deur die Bondskanselier, Angela Merkel.

In die VSA blyk dit dat ’n oorweldigende meerderheid van die deelstate ten gunste daarvan is om skole vir die res van die akademiese jaar gesluit te hou – ondanks teenkanting vanaf die federale regering. Dit moet egter gesien word in die lig van geweldige risiko’s ten opsigte van COVID-19 en die hoë infeksie- en sterftekoers in Amerika.

Elke land en streek het hul eie risiko’s, konteks, tekortkominge en vermoëns, en elkeen moet hierdie maatstawwe gebruik om te besluit wanneer en hoe om hul skole te heropen. Selfs in die beste kontekste is daar slegs ’n geleidelike heropening en steeds baie bestaande maatreëls wat nagekom moet word, maar leerders is tog gaandeweg besig om wêreldwyd weer terug te keer na hul skole. Ouers, kinders, skole en regerings in ontwikkelende lande soos Suid-Afrika het unieke uitdagings ten opsigte van die struikelblokke waarmee afstandsonderrig gepaard gaan. Om kinders bloot deur te sit of terug te hou is ook nie die antwoord nie. Daarby moet die groeiende aantal infeksies ook in gedagte gehou word.

Twee dinge is wel seker. Eerstens, moeilike besluite wag beslis in die onderwyssfeer oor die volgende paar maande – vir sowel die wêreld as vir Suid-Afrika. En tweedens, skoolgaan sal nie heeltemal “normaal” in 2020 wees nie – en dalk ook nie ná 2020 nie.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN
AFRIFORUM AMBASSADEUR