COPE, AfriForum oorhandig memorandum aan VSA-ambassade; versoek VSA om druk toe te pas om Grondwet, eiendomsreg en 1994-skikking te beskerm


COPE en AfriForum het vandag ’n gesamentlike memorandum aan die VSA-ambassade in Suid-Afrika oorhandig waarin die VSA amptelik versoek word om druk op die Suid-Afrikaanse regering toe te pas om die Grondwet, eiendomsreg en die 1994-skikking te beskerm. Dié memorandum is vandag oorhandig tydens ’n vergadering wat Mosiuoa Lekota, COPE-leier, en Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, met ’n senior verteenwoordiger van die VSA-ambassade gehou het.
Die vergadering met die VSA-ambassade is gehou enkele dae nadat die parlementêre grondwethersieningskomitee aanbeveel het dat die Grondwet gewysig moet word om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak. Die gesprek met die VSA-ambassade vloei ook voort uit ’n besluit wat COPE en AfriForum onlangs geneem het om ambassades gesamentlik te nader om internasionale druk teen onteiening sonder vergoeding te mobiliseer.

Kriel verduidelik dat die Suid-Afrikaanse Grondwet en die beskerming van eiendomsreg wat daarin vervat is die resultaat is van ’n onderhandelde skikking wat in die vroeë 1990’s bereik is tussen verskeie partye, waarvan die ANC en die destydse NP-regering hoofrolspelers was. “Ramaphosa en die ANC se besluit om die Grondwet te wysig om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, dui ongelukkig daarop dat die ANC besig is om 1994-ooreenkoms blatant te verbreek. Aangesien druk vanuit die internasionale gemeenskap ’n rol gespeel het om die onderskeie partye sover te kry om die 1994-skikking aan te gaan, het die internasionale gemeenskap nou ook ’n verantwoordelikheid om te help toesien dat die ANC by dié ooreenkoms hou,” sê Kriel.

COPE en AfriForum wys die VSA-ambassade daarop dat die organisasies nie sanksies teen Suid-Afrika versoek wat gewone mense sal benadeel nie, maar eerder dat die VSA sal help voorkom dat internasionale beleggers hul rûe op Suid-Afrika keer deur vroegtydige waarskuwings aan die Suid-Afrikaanse regering te rig dat die miskenning van eiendomsreg vernietigende gevolge vir die Suid-Afrikaanse ekonomie sal inhou.

In die lig daarvan dat die Suid-Afrikaanse regering en president Ramaphosa tans uit twee monde praat – deur aan die een kant die internasionale gemeenskap te probeer paai, maar plaaslik volstoom met pogings voortgaan om die Grondwet te wysig om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak – het AfriForum en COPE in die memorandum feite oor die werklike toedrag van sake rakende die skending van eiendomsreg en plaasmoorde aan die VSA oorgedra. “Ons wil toesien dat president Ramaphosa se pogings misluk om die internasionale gemeenskap om die bos te lei,” voeg Kriel by.

COPE en AfriForum beskou hul samewerking om eiendomsreg te beskerm as ’n positiewe voorbeeld daarvan dat landsburgers van verskillende agtergronde wat soms uiteenlopende standpunte mag huldig op ’n basis van wedersydse erkenning en respek wel goed kan saamwerk deur op sake van gemeenskaplike belang te fokus. Volgens Kriel is die beskerming van eiendomsreg iets wat van gemeenskaplike belang vir almal in Suid-Afrika behoort te wees omdat die huidige 90%-werkloosheidskoers in Zimbabwe bevestig dat almal behalwe ’n klein elitegroep daaronder ly as die miskenning van eiendomsreg ’n land se ekonomie vernietig.
Klik hier vir die volledige memorandum.

Soortgelyke plasings