Kontak AfriForum as jy ’n boete vir ’n ongeldige bestuurslisensiekaart ontvang het

Die burgerregteorganisasie AfriForum het onlangs begin met regsaksie teen die vereiste om bestuurslisensiekaarte elke vyf jaar te hernu en sal binnekort in die hof verskyn. In hierdie verband, versoek AfriForum lede van die publiek om die organisasie te kontak indien hulle as gevolg van die Departement van Vervoer se mislukkings onlangs gestraf of beboet is omdat hul bestuur het sonder ’n hernude bestuurslisensiekaart. Hierdie inligting kan by AfriForum se aansoek gevoeg word en sodoende AfriForum se saak versterk.

AfriForum se aansoek rus op ’n aantal regs- en praktiese gronde. Uit ’n regsperspektief is die Nasionale Padverkeerswet en -regulasies te vaag om uitvoerbaar te wees. Die wetgewing onderskei nie duidelik tussen ’n “bestuurderslisensie” en ’n “bestuurderslisensiekaart” nie. Dit bepaal ook nie uitdruklik dat motoriste, wanneer die kaart verval, moet aansoek doen om ’n nuwe bestuurslisensiekaart nie. Dit bepaal nie eens dat dit ’n misdaad is om met ’n vervalde bestuurslisensiekaart te bestuur nie en skryf geen boete, straf of sanksies voor nie.

In terme van praktiese gronde, maak die Departement van Vervoer se alombekende mislukkings dit onmoontlik en irrasioneel om van motoriste te vereis om hul bestuurslisensiekaarte elke vyf jaar te hernu. Boonop laat baie ander lande veel langer tydperke tussen die hernuwing van bestuurslisensiekaarte toe en in sekere lande is bestuurslisensies onbeperk geldig.

“Ons weet dat meer as 40 000 boetes net in Mei uitgereik is aan motoriste wat voertuie sonder geldige bestuurslisensiekaarte bestuur het. Indien van hierdie motoriste ons kan kontak, wat as gevolg van die Departement van Vervoer se gebrekkige dienslewering nie hul lisensies kon hernu nie, sal dit AfriForum se saak teen die vyf jaar hernuwingstydperk van bestuurslisensiekaarte aansienlik versterk,” sê Reiner Duvenage veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

Vertel AfriForum hier van jou boete.  

Soortgelyke plasings