|

Coligny-2 op borgtog van R20 000 elk vrygelaat

Pieter Doorewaard en Phillip Schutte is vanoggend elk op borgtog van R20 000 in die hooggeregshof in Mmabatho vrygelaat.

Hulle het voor regter Ronnie Hendricks verskyn.

Doorewaard en Schutte van Coligny is vroeër deur Hendricks aan die moord op die tiener Matlhomola Moshoeu skuldig bevind. Hulle het daarna spesiale verlof gekry om direk by die appèlhof in Bloemfontein te kan appelleer teen hul skuldigbevinding.

Die mans se regspan onder leiding van adv. Barry Roux (SC) het die appèlhof suksesvol gepetisioneer om verlof tot appèl te kry nadat die hoë hof in Mmabatho in Maart vanjaar geweier het om verlof tot appèl in dié saak toe te staan.

Pieter Karsten, Doorewaard se oom, het na die uitspraak gesê “ons is ontsettend verlig en dankbaar.

“Daar is geen manier dat die duisternis van ’n leuen die lig van die waarheid sal oorskadu nie. Ons glo en ons gaan aanhou glo.”

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê “ons weet die mans is onskuldig en hulle verdien nie om ’n dag langer in die gevangenis te wees nie. Hulle is reeds 13 maande in aanhouding en dit is dertien maande te lank.”

Kriel het gesê AfriForum sal aanhou om die mans se regskoste vir die appèlproses te betaal.

AfriForum het besluit om Doorewaard en Schutte se appèlaansoek te befonds nadat Bonakele Pakisi, die enigste ooggetuie in die moordsaak, teenoor vier persone erken het dat hy in die hof gelieg het. Hy het getuig dat hy gesien het hoe Doorewaard en Schutte dié tiener vermoor.

Roux het verlede week tydens die borgtogaansoek aangevoer dat die mans op borgtog vrygelaat moet word aangesien twee regters van die appèlhof aangedui het dat daar ’n redelike kans is dat die hof tot ’n ander bevinding kan kom. Hy het ook gesê Pakisi se getuienis is nie op standaard is nie en dat die mans moontlik ontslag kan kry.

Hy het aangevoer dit is in belang van geregtigheid dat die mans hangende die uitspraak op borgtog vrygelaat word.

Ds. Tewie Pieters van Coligny, wat ’n leidende rol gespeel het om versoening en verdraagsaamheid in die gemeenskap te bewerkstellig ná die voorval, het buite die hof gesê daar is met ’n pad van rekonsiliasie in die dorp begin en dit gaan voort in daadwerklike projekte wat begin is om die gemeenskap bymekaar te bring.

Oor die mans se borgtog het hy gesê: “Ons het van die begin af in hul onskuld geglo. Dit is jammer en tragies dat die regsproses die pad moes loop waar ’n hof in Bloemfontein dit anders sien as die een in Mahikeng.”

Hy het gesê die feit dat die mans nou borgtog gekry het, dui daarop dat daar steeds ’n moontlikheid is dat daar geregtigheid in die regstelsel is.

 

Soortgelyke plasings