Chris Hani-munisipaliteit stort rou riool in Stormbergspruit; AfriForum eis aksieplan

Die burgerregtewaghond AfriForum het ’n brief aan Moppo Mene, munisipale bestuurder van die Chris Hani Distriksmunisipaliteit, gestuur waarin die organisasie binne 48 uur ’n aksieplan eis om die voortslepende rioolprobleem in Molteno in die Oos-Kaap op te los.

Die munisipaliteit moet in die aksieplan nie net aandui hoe hulle die rioolprobleem gaan oplos nie, maar ook hoe hulle die Stormbergspruit gaan opruim nadat dit oor die afgelope paar maande erg besoedel is. Daar moet verder ook tydlyne vir die opgradering van die watersuiweringswerke by dié aksieplan ingesluit word.
Thomas van Dalen, AfriForum se provinsiale koördineerder vir die Oos-Kaap,  het die Molteno-pompstasie – wat rou riool na die rioolverwerkingsaanleg moet pomp – op Woensdag, 21 Junie 2017, besoek en sê dat dié pompstasie al vir twee maande glad nie rou riool na die aanleg pomp nie.

“Die gevolg is dat rou riool nou direk in die Stormbergspruit gestort word. Die spruit loop teen ’n woonbuurt verby en grens ook aan ’n informele nedersetting wie se inwoners die spruit gebruik om kos te maak, klere te was en te bad. Kinders speel in die spruit en diere drink die water. Die besoedeling hou ’n reusegesondheidsrisiko in vir almal wat met die water in aanraking kom.”
Van Dalen sê verder dat Molteno-inwoners al vir meer as twee jaar lank konstant water- en rioolprobleme ervaar. “Die rioolpompstasie werk nie en inwoners ondervind ’n gereelde watertekort en hewige waterbeperkings – veral tussen 18:00 en 04:00.”

Die munisipaliteit voer glo aan dat dié waterbeperkings en -tekorte aan die verouderde, stukkende infrastruktuur toegeskryf kan word.
AfriForum sal binnekort verdere stappe bekend maak, afhangend van die munisipaliteit se terugvoer.

Soortgelyke plasings