Centurion grondeis: Owerhede belieg gemeenskap


Owerhede, wat besig is om die reusegrondeis in verskeie uitbreidings in Centurion af te handel, weier om verdere en volledige inligting oor dié grondeis aan AfriForum beskikbaar te stel ondanks die formele aansoek wat laasgenoemde versoek.

AfriForum gaan nou verdere stappe volg waarna die hof per aansoek genader sal word om die owerhede te verplig om dié inligting aan AfriForum te verskaf.
AfriForum het al die inligting oor die grondeis nodig om volledige indienings tesame met deskundige ondersoekverslae aan die owerhede te stuur om die grondeis na behore teen te staan.
Die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming hou aan die gemeenskap voor dat die tydperk vir indiening teen die grondeis reeds gesluit het. Hierdie bewering is nie waar nie en die departement moet die betrokke gemeenskap die geleentheid gun om hul verslae in plek te kry vir behoorlike indiening wat deur die departement oorweeg sal word. Die departement het nadat AfriForum by die eisproses betrokke geraak het om die gemeenskappe se belange te beskerm, aangevoer dat die geraakte gemeenskappe nie bekommerd hoef te wees dat hul eiendomme in die slag sal bly nie.
Dit volg ná ’n grondeis in Junie 2018 in die Staatskoerant gepubliseer is wat ongeveer 4 000 ha. se onroerende eiendom raak en nagenoeg 2 000 huisgesinne betrek.

“Mandate van geraakte gemeenskapslede wat AfriForum versoek om hulle te help om die eis teen te staan, stroom steeds in. AfriForum het reeds vooraanstaande deskundiges aangestel om die eisers se weergawe te weerlê. AfriForum bevestig hiermee sy standpunt dat ongegronde en ondeurdagte eise nie sonder teenstand eenvoudig net aanvaar moet word nie,” sê Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-risikobestuurder.
“Artikel 34 van die Wet op Herstel van Grondregte bepaal uitdruklik dat owerhede in wie se gebied die geraakte eiendom val, die hof kan nader met ’n aansoek om die onteiening van die gemelde eiendom uit te sluit. Daarna sal slegs finansiële vergoeding en die verplasing van die eisers se eis na alternatiewe grond oorweeg kan word. Indien die owerhede vasbeslote is dat die Centurion-gemeenskap se onroerende eiendom nie onteien gaan word nie, waarom is hierdie aansoek nie by die hof ingedien nie?” sluit Kamfer af.

Soortgelyke plasings