|

Buurtwagte hou sigbaarheids-en-skoonmaakaksie by Zandfontein

AfriForum se Oos-Moot-, Wes-Moot- en Pretoria-Wes-buurtwag het op 1 September 2019 ’n sigbaarheidspatrollie by die Zandfontein-begraafplaas gehou nadat gemeenskapslede AfriForum ingelig het dat hulle onveilig voel by begraafplase. AfriForum het met ’n peiling op sosiale media bepaal dat die gemeenskap die Zandfontein-begraafplaas as die onveiligste beskou.

Volgens Andries Opperman, voorsitter van AfriForum se Oos-Moot-buurtwag, is die grootste probleem aggressiewe bedelaars wat by stopstrate staan en die publiek terroriseer wat die begraafplaas besoek. “Die bedelaars teiken veral vroue wat alleen is en ouer mense wat by die begraafplaas inry. Daar is ook gerugte dat hulle die mense intimideer en hul karre skop om so geld uit hulle te kry.”

Die drie buurtwagte het gesamentlik gekoördineer om die begraafplaas te beveilig en het sommer ook skouer aan die wiel gesit om vuilgoed op te tel en die plek netjies te maak.

“Die munisipale werkers het ons probeer verbied om die begraafplaas skoon te maak en was baie ontsteld omdat ons die inisiatief geneem het om die plek skoon te maak. Daar is gelukkig nie ’n wet wat ons verbied om vullis op te tel nie en die feit dat die plek so vuil was, is vir ons buurtwagte genoeg rede om skoon te maak,” sê Opperman.

Johan Liebenberg, voorsitter van AfriForum se Wes-Moot-buurtwag, sê hierdie tipe aksies bevorder samewerking en verhoog die gemeenskap se weerbaarheid. “Dit is vir ons as buurtwag belangrik dat die gemeenskap veilig moet voel as hulle die begraafplaas besoek. Ons wil graag die gemeenskap uitnooi om betrokke te raak en deel van die buurtwagte te vorm. Ons sal graag weer so ’n aksie wil loods om ons gemeenskap by te staan.”

Raak vandag nog aktief by dié buurtwagte betrokke: SMS “buurtwag” na 45341 (R1) en dra by tot die positiewe verskil.

Soortgelyke plasings