|

Buurtwaglede keer verdagte in Vaalpark aan

Twee buurtwaglede van Vaalpark wat onder die AfriForum-tak van Sasolburg val, het eergisteraand ’n verdagte man vasgetrek terwyl hulle patrollie gery het.

Die verdagte was besig om aan busse te peuter wat agter die Sasol Garage in Vaalpark gestaan het.

Werknemers van Sasolburg Alarms het by die toneel verbygery waarna die verdagte begin weghardloop het toe hy hulle gesien het. Op daardie oomblik het André Vallendgoed en JJ van Droogenbroek opgedaag en die verdagte sien weghardloop. Hulle het hom op die hoek van Koningsberg- en Matroosbergstrate aangekeer. Hy is na die Sasol Garage teruggeneem waarna die polisie gekontak is.

Volgens die twee buurtwaglede was die polisie blitsig op die toneel waar die verdagte toe vir vingerafdrukke weggeneem is.

Die polisie het gesê die verdagte is aan hulle bekend as ’n gereelde moeilikheidmaker.

CW Els, provinsiale koördineerder van die Oos-Vrystaat, verwelkom die optrede deur die gemeenskap en die polisie. “Misdaad in die Sasolburg-omgewing sou baie hoër gewees het as dit nie vir die gereelde patrollering en optrede van die buurtwagte was nie.

“Die buurtwagte se teenwoordigheid in samewerking met die flinke optrede maak van Sasolburg en Vaalpark heelwat veiliger dorpe.”

 

 

Soortgelyke plasings