| |

Burgerregte word tans drasties ingeperk – AfriForum begin klagtekanaal

Die burgerregteorganisasie AfriForum het ’n verslag gepubliseer wat aandui watter regte as gevolg van die staat van inperking ingeperk word. Daarmee saam is ’n kanaal geskep waar mense dit onder AfriForum se aandag kan bring indien hulle regte onder hierdie omstandighede beperk word. E-posse in hierdie verband kan na jouregte@afriforum.co.za gestuur word.

Dié verslag is deur die grondwetkenner adv. Mark Oppenheimer opgestel en dui daarop dat ’n beduidende aantal van die publiek se burgerregte as gevolg van die staat van inperking aangrypend beperk word. Dit sluit die regte op vryheid van beweging, vryheid van spraak, vryheid en sekuriteit van die persoon, die reg op privaatheid, kinderregte, die reg op onderwys en die reg op menswaardigheid in. Die dokument is op AfriForum se webtuiste gepubliseer en dit sal as ’n lewendige dokument benader word aangesien dit deurlopend opgedateer sal word na aanleiding van belangrike verwikkelinge.

Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum, sê dat AfriForum alreeds op rekord is dat die organisasie ten gunste is van maatreëls wat in plek gestel word om die verspreiding van die koronavirus te beperk. AfriForum het ook vroeër aan die Departement van Gesondheid geskryf en die organisasie se bereidwilligheid verklaar om by die stryd teen die verspreiding van die koronavirus betrokke te raak.

“Ondersteuning van maatreëls om die verspreiding van die virus te beperk hoef nie te beteken dat ’n blanko tjek aan die regering gegee word nie. Drukgroepe het steeds ’n belangrike rol om te speel om toe te sien dat die krisis op ’n verantwoordelike wyse hanteer word. AfriForum se taak is nou veral om toe te sien dat die staat van inperking sy gang gaan, asook dat hierdie regte ten volle herstel word wanneer die inperking verby is.”

Lede van die publiek wie se regte beperk word kan ’n e-pos stuur na jouregte@afriforum.co.za.

Klik hier vir die verslag.

Soortgelyke plasings