|

Buffelspoort-gemeenskap gaan veiligheidsaksies verskerp na vlaag misdade

Emosies loop hoog onder inwoners van die misdaadgeteisterde Mooinooi en Buffelspoort-omgewing in Noordwes.
’n Veiligheidsvergadering is Woensdagaand gehou waartydens besluit is om die informele veiligheidstrukture beter te koördineer ten einde die inwoners beter te beveilig.
Marcus Pawson, AfriForum se koördineerder in Noordwes en Jan-Piet Cooks, konsultant: gemeenskapsveiligheid by AfriForum, was by die vergadering wat deur sowat 150 mense bygewoon is.

Volgens Cooks is die gemeenskap ontsteld oor die vlaag aanvalle en baie omgekrap oor die polisie se onvermoë om hulle te beskerm.
Die polisiestasie, wat deel van die Madibeng-kluster is, is na verneem word disfunksioneel aangesien daar nie ’n bevelvoerder is nie en die kaptein wat tans waarneem van Rustenburg af moet kom. “Die gemeenskap meen die polisie moet dringend hul werk begin doen.”

In die afgelope twee weke was daar twee ernstige rooftogte.
In die eerste voorval is Braam Blignaut, ’n pa van vier, op sy hoewe naby Mooinooi aangeval en geskiet. Hy is verlam en in die dr. George Mukhari-hospitaal in Ga-Rankuwa waar hy aan ’n ventilator gekoppel is.
Slegs R250, twee selfone en ’n hangertjie is gesteel.

In die tweede voorval is Tina du Toit en haar gesin deur drie rowers ook op hul hoewe in Buffelspoort aangeval. Sy het een rower doodgeskiet.

Die gemeenskap vermoed die aanvalle word deur dieselfde groep mans gedoen. ’n Verdagte wat vir die aanval op Blignaut in hegtenis geneem is, is na verneem word een van vyf verhoorafwagtendes wat onlangs uit die Hartbeespoort-polisieselle ontsnap het.
Die polisie wou nie dié bewering ontken of bevestig nie.

Cooks het gesê daar is tydens die vergadering besluit om leiers vir die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) te kies. ’n Nuwe bestuur is ook vir die AfriForum-tak gekies wat groter leiding sal neem in die bestuur van die veiligheid van die gebied. Daar word dringend gekyk na groter samewerking tussen buurtwagte en om patrollies ook uit te brei.

Soortgelyke plasings