|

Briljante boek oor oorlogvoering in Afrika bekendgestel

’n Omvattende en briljante boek oor die aard en omvang van oorlogvoering in Afrika, en veral vierdegenerasie-oorlogvoering, is gisteraand in Centurion bekendgestel.

Mobile Warfare for Africa is geskryf deur genl.-maj. Roland de Vries, Camille Burger en Willem Steenkamp.

De Vries, voormalige adjunkhoof van die Suid-Afrikaanse Weermag, is nou ’n konsultant vir AfriForum se Projek Nehemia, ’n proaktiewe misdaadbekampingstrategie wat ten doel het om gemeenskappe in vennootskap met ander rolspelers te bemagtig om hulself beter te beveilig.

De Vries het gisteraand gesê die boek beskryf die aard en omvang van oorlogvoering in Afrika en veral vierdegenerasie-oorlogvoering, wat as brutaal, ongereeld en onderduims beskryf kan word. Dit is presies dié taktiek wat deur geweldenaars in Suid-Afrika gebruik word wanneer onskuldige mense beroof en vermoor word, en plaasaanvalle met meedoënlose militêre presisie uitgevoer word.

Die boek dek die teoretiese onderbou van oorlogvoering, die fundamentele aspekte van oorlogvoering op die grond, konsepte van oorlogvoering en vredesoperasies daarna. Dit is ook ryklik geïllustreer met kleurkaarte en -foto’s, en gevallestudies uit die destydse Suid-Afrikaanse Grensoorlog.

De Vries het verwys na die situasie waarin Suid-Afrika hom tans bewind en die aard en omvang van gewelddadige misdaad. “Ons het met ’n nuwe revolusie te doen en ons sal moet kyk hoe tegnologie in die stryd teen primitiewe oorlogvoering gebruik kan word. Die verskillende fases van revolusionêre oorlogvoering is duidelik sigbaar. Ons moet gereed wees en die essensie is dat as ons vrede in die toekoms wil hê, ons vir oorlog moet voorberei.”

Die kundigheid en leierskap van soldate wat in die bosoorlog geveg is, word internasionaal erken en bewonder. Die nuwe boek word tans aan die Australiese bevel-en-stafkollege in Canberra bestudeer, waar uitsoekstudente leer om oorlog in plekke soos Afghanistan en Irak te voer. Mense wat militêr kundig wil raak, sal veral baat vind by die boek.

De Vries gee ook klas by die kollege en volgens hom word die bosoorlog in diepte bestudeer. “Suid-Afrika is een van die lande wat die beste voorbeelde oor teeninsurgensie-oorlog gestel het. Die suksesfaktore soos taktiese vernuf, leierskap op die laagste vlak en die durf, moed en selfvertroue waarmee Suid-Afrikaanse soldate geveg het, is veral kwessies waarna in diepte gekyk word.”

Oudkollegas van De Vries sê die boek span die kroon op sy loopbaan as militêre denker in die Suid-Afrikaanse krygsgeskiedenis.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het De Vries gelukgewens met die boek en gesê daar is groot waardering vir die bydrae wat hy by AfriForum lewer om veiligheidstrukture regoor die land te help vestig en ’n verskil in die land te maak.

Die boek kos R700 en is by Kraal Uitgewers by www.kraaluitgewers.co.za beskikbaar.

 

Soortgelyke plasings