| | |

Gemeenskapsveiligheid: Polisieminister draai rug op polisielede, gemeenskappe

Pleidooie van duisende bekommerde gemeenskapslede aan Bheki Cele, die Minister van Polisie, dat plaaslike veiligheidstrukture soos buurtwagte en gemeenskapspolisiëringforums hulle inisiatiewe – waaronder patrollies – tydens die staat van inperking hervat, val steeds op dowe ore.

AfriForum is uiters bekommerd oor die Minister se traak-my-nie-agtige houding teenoor  gemeenskapveiligheidstrukture in die land en die reusebydrae wat hulle tot die bevordering van gemeenskapsveiligheid maak.

“AfriForum se petisie om buurt-, plaas- en plotwagte toe te laat om hul gemeenskappe te beveilig, is reeds deur meer as 15 000 mense onderteken. Dit blyk dat die Polisieminister aanvaar dat die verbanning van alkohol die antwoord op die bekamping van misdaad is. Dit is egter nié ’n sinvolle, volhoubare of proaktiewe instelling om misdaad suksesvol te beveg nie. Die rol wat plaaslike veiligheidstrukture speel, is wel,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van Gemeenskapsveiligheid.

“Buurt-, plaas- en plotwagte het nog nooit gehuiwer om die polisie by te staan nie en is ʼn noodsaaklike ondersteuningsfunksie in die suksesvolle bekamping van misdaad in gemeenskappe. Tog draai die Polisieminister sy rug op dié strukture en gevolglik ook gemeenskappe en plaaslike polisielede wat op hierdie strukture steun,” meen Cameron.

AfriForum sal egter nie sy rug op gemeenskappe draai nie en sal binne die raamwerk van die wet die nodige ondersteuning aan gemeenskappe bied om hulle tydens die staat van inperking te ondersteun. Die organisasie het reeds verskeie proaktiewe projekte van stapel gestuur – waaronder ’n grootskaalse verspreiding van handreinigers – aan onder meer wetstoepassende owerhede.

Soortgelyke plasings