Booswigte vier minder fees – AfriForum loof polisie vir veiliger feesseisoen


AfriForum prys die polisie vir die uitstekende diens wat hulle tydens die feesseisoen gelewer het. Kontakmisdaad het met bykans 8% gedaal in vergelyking met die derde kwartaal van die 2015/2016 finansiële jaar. Ander ernstige misdade het ook in dié kwartaal met meer as 6% teenoor die vorige finansiële jaar gedaal.

“As toekomstige polisiekommissarisse sou voortgaan om op grondvlak saam te werk – soos  wat hierdie feesseisoen die geval was – gaan ons ’n toenemende verbetering in misdaadstatistiek sien. Dit dui op leierskap wat verstaan wat op grondvlak aangaan en wat strategies daarvolgens kan aanpas. Misdaad tydens die feesseisoen is gewoonlik buitengewoon hoog, maar dit lyk asof dié tendens verander kan word. Lt.genl. Khomotso Phahlane se strategie werk,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.

Volgens Lorraine Claasen van die AfriForum Navorsingsinstituut (ANI) is dit duidelik dat die strategie van verhoogde sigbaarheid, beplande ontplooiing en intelligensiegedrewe operasies wat deur die SAPD uitgevoer word hierdie feesseisoen vrugte afgewerp het.

“Die suksesse word verder versterk deur die doeltreffende koördinering van alle rolspelers. Privaat sekuriteitsmaatskappye, veiligheidsnetwerke, buurtwagte en plaaswagte speel elk ’n noodsaaklike rol wat bystand aan die SAPD en gemeenskappe betref,” sê Claasen. “Die onus rus egter op die Suid-Afrikaanse regstelsel in geheel om te verseker dat geregtigheid geskied, veral as die regte van slagoffers in ag geneem word,” sluit Claasen af.

Cameron het die waarnemende nasionale kommissaris van die polisie veral geloof vir die ommekeer in die polisie sedert sy oorname by lt.genl. Riah Phiyega.

Soortgelyke plasings