|

Boomplantmaand: AfriForum se Welkom-tak dra by tot ’n groener toekoms

Die AfriForum-tak in Welkom het gedurende September en aan die begin van Oktober 50 bome aan verskillende skole en instansies geskenk as deel van dié burgerregteorganisasie se jaarlikse boomplantmaandprojek. Dit sluit in Hoërskool Hennenman, die Gereformeerde Kerk Ventersburg, Asina-ouetehuis, Voluit Primêre skool, Hoërskool Riebeeckstad, Hoërskool Goudveld, Hoërskool Wessel Maree, Laerskool Naudeville en Welkom Volkskool.

Volgens Jp Nel, AfriForum se assistentkoördineerder vir die Hoogland, het AfriForum vanjaar reeds 2 530 bome landwyd geplant.

“Deur inheemse bome te plant, bewaar ons nie net ons omgewing en maak dit ’n mooier plek om in te bly nie, maar wys ons ook dat ons hoop vir die toekoms het. Bome is veel meer as bloot ’n belangrike deel van die ekostelsel of ’n noodsaaklike natuurlike hulpbron – bome is simbolies van lewe,” sê Nel.

AfriForum fokus jaarliks op ’n boomspesie wat algemeen voorkom sowel as ’n skaars boomspesie. Die algemene boom vir 2019 is die maroela (Sclerocarya birrea), terwyl die skaars boom die appelblaar (Philenoptera violacea) is. AfriForum moedig egter sy lede aan om inheemse bome te plant wat in hul spesifieke omgewings aard.

“Boomplantmaand bied die ideale geleentheid om ’n blywende verskil in ons gemeenskappe te maak. Bome het egter deurlopende sorg nodig om tot voordeel van almal te floreer. Die AfriForum-tak in Reitz onderneem om hierdie sorg te verskaf. Dit is simbolies daarvan dat ons hier is om te bly en hoop vir die toekoms het,” meen Nel.

Die tak moedig die gemeenskap aan om deurgaans inheemse bome in hul dorp te plant en deel te wees van ’n groener toekoms.

Raak vandag nog by AfriForum betrokke: SMS jou dorp se naam na 31481 (R1).

Soortgelyke plasings