|

Boomplantmaand: AfriForum se Stellenbosch-tak dra by tot ’n groener toekoms

Die AfriForum-tak in Stellenbosch het in September vanjaar 13 bome aan Animal Welfare Society Stellenbosch geskenk as deel van dié burgerregteorganisasie se jaarlikse boomplantmaandprojek.

Volgens Deon de Jager, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland, het AfriForum reeds vanjaar nagenoeg 2 530 bome landwyd geplant.

“Deur inheemse bome te plant, bewaar ons nie net ons omgewing en maak dit ’n mooier plek om in te bly nie, maar wys ons ook dat ons hoop vir die toekoms het. Bome is veel meer as bloot ’n belangrike deel van die ekostelsel of ’n noodsaaklike natuurlike hulpbron – bome is simbolies van lewe,” sê De Jager.

AfriForum fokus jaarliks op sowel ’n boomspesie wat algemeen voorkom as ’n skaars boomspesie. Die algemene boom vir 2019 is die maroela (Sclerocarya birrea), terwyl die skaars boom die appelblaar (Philenoptera violacea) is. AfriForum moedig sy lede egter aan om inheemse bome te plant wat in hul omgewings aard. Vir Stellenbosch het ons op witstinkhout- (Celtis africana) en Outeniekwageelhout (Podocarpus falcatus) besluit omdat dit goed in hierdie ongewing aard en gehard is.

“Boomplantmaand bied die ideale geleentheid om ’n blywende verskil in ons gemeenskappe te maak. Bome het egter deurlopende sorg nodig om tot voordeel van almal te floreer. Die AfriForum-tak in Stellenbosch onderneem om dié sorg te verskaf. Dit is simbolies daarvan dat ons hier is om te bly en hoop vir die toekoms het,” meen De Jager.

Die tak moedig die gemeenskap aan om deurgaans inheemse bome in hul dorpe te plant en deel te wees van ’n groener toekoms. E-pos deon.dejager@afriforum.co.za om by die Stellenbosch-tak betrokke te raak.

Soortgelyke plasings