|

Boomplantmaand: AfriForum se Mooinooi-tak dra by tot ’n groener toekoms

Die AfriForum-tak in Mooinooi het op 30 September 2019 olienhoutbome by Laerskool Elandskraal geplant as deel van dié burgerregteorganisasie se jaarlikse boomplantmaandprojek.

Volgens Sampie Steinberg, AfriForum se assistentkoördineerder vir Marico, het AfriForum vanjaar nagenoeg 2 500 bome landwyd geplant.

“Deur inheemse bome te plant, bewaar ons nie net ons omgewing en maak dit ’n mooier plek om in te bly nie, maar ons wys ook dat ons hoop het vir die toekoms. Bome is veel meer as bloot ’n belangrike deel van die ekostelsel of ’n noodsaaklike natuurlike hulpbron – bome is simbolies van lewe,” sê Francois Olivier, voorsitter van AfriForum se Mooinooi-tak.

AfriForum fokus jaarliks op sowel ’n boomspesie wat algemeen voorkom as ’n skaars boomspesie. Die algemene boom vir 2019 is die maroela (Sclerocarya birrea), terwyl die skaars boom die appelblaar (Philenoptera violacea) is. AfriForum moedig sy lede egter aan om inheemse bome te plant wat in hul omgewings aard.

“Boomplantmaand bied die perfekte geleentheid om ’n blywende verskil in ons gemeenskappe te maak. Bome het egter deurlopende sorg nodig om tot voordeel van almal te floreer en die AfriForum-tak in Mooinooi onderneem om dié sorg te verskaf. Dit is simbolies daarvan dat ons hier is om te bly en hoop vir die toekoms het,” meen André Scherman, die Mooinooi-tak se omgewingsakevoorsitter.

Die tak moedig die gemeenskap aan om deurgaans inheemse bome in hul dorpe te plant en deel te wees van ’n groener toekoms.

AfriForum se Mooinooi-takbestuur bedank graag vir Buks Steyn van Buks Tuindienste vir die skenk van die bome.

Soortgelyke plasings