|

Boomplantmaand: AfriForum se Klerksdorp-tak dra by tot ’n groener toekoms

Die AfriForum-tak in Klerksdorp het op 9 September 2019 ’n riviervaderlandswilg (Combretum erythophylium) geskenk as deel van dié burgerregteorganisasie se boomplantmaandprojek. Dié boom is saam met die graad 3-leerders by Laerskool Saamtrek geplant.

Volgens Frans Roos, AfriForum se Klerksdorp-takvoorsitter, beoog die organisasie om vanjaar meer as 3 000 bome landwyd te plant. “Bome vorm ’n belangrike deel van ons ekostelsel en daarom beskou ons die plant van nuwe bome as ’n groot bydrae tot ons erfenis.”

AfriForum fokus jaarliks op sowel ’n skaars boomspesie as ’n boomspesie wat algemeen voorkom. Die algemene boom vir 2019 is die maroela (Sclerocarya birrea), terwyl die skaars boom die appelblaar (Philenoptera violacea) is. AfriForum moedig dorpe egter aan om inheemse bome te plant wat in hul omgewings aard.

“Boomplantmaand skep die ideale geleentheid vir ons as gemeenskap om ons omgewing te versorg en bewaar. Met die skenk van dié boom wil ons die leerders touwys maak oor die belangrike rol wat bome in ons omgewing vervul,” sê Esmé Coetzer van AfriForum se Klerksdorp-tak.

Hierdie is een van verskeie aksies wat dié maand gaan plaasvind. Die tak moedig die gemeenskap aan om by die veldtog betrokke te raak en deel te word van ’n groener toekoms.

Soortgelyke plasings