Header Artwork
Boomplantmaand: AfriForum dra by tot ’n groener toekoms

Die AfriForum-tak in Worcester het op Vrydag 13 September vier bome by die Langerug Skool en op Saterdag 14 September twee bome by Sandy’s Eden-dierewelsynsorganisasie geplant as deel van dié burgerregteorganisasie se jaarlikse boomplantmaand. Die tak het besluit om witstinkhoute te plant, omdat dit inheems en gehard is, en redelik vinnig groei.

Volgens Deon de Jager, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland, beoog die organisasie om vanjaar landwyd meer as 3 000 bome te plant.

“Deur inheemse bome te plant, bewaar ons nie net ons omgewing en maak dit ’n mooier plek om in te bly nie, maar ons wys ook dat ons hoop vir die toekoms het. Bome is veel meer as bloot ’n belangrike deel van die ekostelsel of ’n noodsaaklike natuurlike hulpbron – bome is simbolies van lewe,” sê De Jager.

AfriForum fokus jaarliks op sowel ’n boomspesie wat algemeen voorkom as ’n skaars boomspesie. Die algemene boom vir 2019 is die maroela (Sclerocarya birrea), terwyl die skaars boom die appelblaar (Philenoptera violacea) is. AfriForum moedig sy lede egter aan om inheemse bome te plant wat in hul omgewings aard.

“Boomplantmaand bied die perfekte geleentheid om ’n blywende verskil in ons gemeenskappe te maak. Bome het egter deurlopende sorg nodig om tot voordeel van almal te floreer – en die AfriForum-tak in Worcester onderneem om hierdie sorg te verskaf. Dit is simbolies daarvan dat ons hier is om te bly en hoop vir die toekoms het,” meen De Jager.

Die tak moedig die gemeenskap aan om by die projek betrokke te raak en deel te word van ’n groener toekoms. E-pos deon.dejager@afriforum.co.za om by die Worcester-tak se projekte in te skakel.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN