Header Artwork
Boomplantmaand: AfriForum dra by tot ’n groener toekoms

Die AfriForum-tak in Alberton het op 14 September 2019 twaalf bome in die park op die hoek van Collinsweg en Kritzingerstraat geplant as deel van dié burgerregteorganisasie se jaarlikse boomplantmaandprojek.

Volgens Chris Fourie, voorsitter van die omgewingsakeportefeulje van die Alberton-tak, beoog die organisasie om vanjaar landwyd meer as 3 000 bome te plant. Een boom is geplant vir elke been van die Alberton-gemeenskap: veiligheid en sekuriteit; jeug; plaaslikeregeringsake; omgewingsake; skole; die plaaslike koerant; die AfriForum-tak en – die belangrikste – die gemeenskap self.

“Deur inheemse bome te plant, bewaar ons nie net ons omgewing en maak dit ’n mooier plek om in te leef nie, maar ons wys ook dat ons hoop vir die toekoms het. Bome is veel meer as bloot ’n belangrike deel van die ekostelsel of ’n noodsaaklike natuurlike hulpbron – bome is simbolies van lewe,” sê Fourie.

AfriForum fokus jaarliks op sowel ’n boomspesie wat algemeen voorkom as ’n skaars boomspesie. Die algemene boom vir 2019 is die maroela (Sclerocarya birrea), terwyl die skaars boom die appelblaar (Philenoptera violacea) is. AfriForum moedig sy lede egter aan om inheemse bome te plant wat in hul omgewings aard.

“Boomplantmaand bied die perfekte geleentheid om ’n blywende verskil in ons gemeenskappe te maak. Bome het egter deurlopende sorg nodig om tot voordeel van almal te floreer – en die AfriForum-tak in Alberton onderneem om dié sorg te verskaf. Dit is simbolies daarvan dat ons hier is om te bly en hoop vir die toekoms het,” meen Fourie.

Die tak moedig die gemeenskap aan om by die projek betrokke te raak en na ’n groener toekoms vooruit te streef.

E-pos marie.naude@afriforum.co.za om by AfriForum se plaaslike omgewingsakeportefeulje betrokke te raak.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN