|

Boomplantmaand: AfriForum dra by tot ’n groener toekoms

Die AfriForum-tak in Boksburg het op 13 September 2019 vyf bome by Laerskool Goudrand geplant as deel van dié burgerregteorganisasie se jaarlikse boomplantmaandprojek.

Volgens Helen Bergh, voorsitter van AfriForum se Boksburg-tak, beoog die organisasie om vanjaar landwyd meer as 3 000 bome te plant.

“Deur inheemse bome te plant, bewaar ons nie net ons omgewing en maak dit ’n mooier plek om in te bly nie, maar ons wys ook dat ons hoop het vir die toekoms. Bome is veel meer as bloot ’n belangrike deel van die ekostelsel of ’n noodsaaklike natuurlike hulpbron – bome is simbolies van lewe,” sê Bergh.

AfriForum fokus jaarliks op sowel ’n boomspesie wat algemeen voorkom as ’n skaars boomspesie. Die algemene boom vir 2019 is die maroela (Sclerocarya birrea), terwyl die skaars boom die appelblaar (Philenoptera violacea) is. AfriForum moedig sy lede aan om inheemse bome te plant wat in hul spesifieke omgewing aard.

“Boomplantmaand bied die perfekte geleentheid om ’n blywende verskil in ons gemeenskappe te maak. Bome het egter deurlopende sorg nodig om tot voordeel van almal te floreer en die Laerskool Goudrand onderneem om hierdie sorg te verskaf. Dit is simbolies daarvan dat ons hier is om te bly en hoop het vir die toekoms,” meen Bergh.

Die tak moedig die gemeenskap aan om by die projek betrokke te raak en deel te word van ’n beter en groener toekoms.

Stuur ’n e-pos na marie.naude@afriforum.co.za om by dié tak se omgewingsakeportefeulje betrokke te raak.

 

Soortgelyke plasings