|

Boere moet moed hou

Die burgerregte-organisasie AfriForum gaan vandeesweek 147 ton voer aan boere in die droogte geteisterde Reddersburg-distrik skenk.

Dié skenkings volg nadat die burgerregte-organisasie vroeër vanjaar aangekondig het dat hy ’n veldtog van stapel gaan stuur wat daarop gemik is om hulp aan boere te verleen. Boere wat tans hulp kry, is vroeër genader om aan te dui wat hul grootste behoeftes is.

Dit is moontlik gemaak deur bydraes van die publiek sowel as donasies van twee Nederlandse organisasies genaamd Woord en Daad en Hulp Bij Bijzondere Noden.

Volgens Pieter Brink, ʼn boer waar daar vroeër voer afgelewer is, is die boere in die Reddersburg-omgewing dankbaar vir die tydelike verligting wat die voer bied, maar steeds bekommerd oor hul toekoms op die plase.

Hy het op sosiale media foto’s gedeel van hoe die huidige droogte sy familieplaas in Reddersburg, waar hulle met skape en beeste boer, beïnvloed het. Volgens Brink het hul reeds agt koeie, agt swartwildebeeskalfies en 34 blesboklammers weens die droogte verloor.

Hy meen inwoners in dié gebied, wat vier jaar laas genoegsame reën gekry het, is baie moedeloos.

Douglas Stern, president van Agri Oos-Kaap, het tydens ʼn onlangse onderhoud ʼn beroep op boere gedoen om op hul plase te bly en nie moed op te gee nie. Hy meen dit is juis Suid-Afrikaanse boere se toewyding wat maak dat dié land die enigste in Afrika suid van die Sahara is waar voedselsekerheid nog bestaan.

Volgens Stern is die beste barometer van die afgelope twee jaar se droogte die R130 miljard se landwye landbouskuld aan bankinstellings en daarom sê hy dat die droogte binne die volgende paar maande reg bestuur moet word ter wille van Suid-Afrika se voedselsekerheid.

Hy sê voorts dat oproere en politieke onstabiliteit in tye van erge voedseltekorte verwag kan word omdat honger mense nie luister na redenasies nie.

AfriForum het vanjaar in totaal sowat 300 ton voer aan boere in die Vrystaat en Noordwes geskenk en het ook in November vanjaar verskeie Europese organisasies besoek om verdere steun vir droogtehulp te werf.

Twee nasionale veldtogkoördineerders van die burgerregte-organisasie het ook tydens dié oorsese besoek ʼn voorlegging gedoen oor die Suid-Afrikaanse regering se gebrek aan droogtehulp vir boere tydens die Verenigde Nasies (VN) se negende Forum vir Minderheidsaangeleenthede in Genève, Switserland.

Volgens Henk Maree, AfriForum se nasionale woordvoerder, het dié voorlegging ten doel gehad om die Suid-Afrikaanse regering se onvermoë en onbereidwilligheid om boere in nood te help, aan die groot klok gehang.

“Sowat 38 000 Suid-Afrikaners het reeds hul werk weens die droogte verloor. Basiese produkte soos mieliemeel se pryse gaan die hoogte inskiet. Die impak van die droogte van die afgelope paar jaar gaan in die afsienbare toekoms ’n groot impak op die Suid-Afrikaanse ekonomie hê,” meen Maree.

Om te help om ’n verskil te maak, kan jy R10 vir die droogtehulpveldtog skenk deur “DROOGTE” na 38312 te SMS.

Soortgelyke plasings