Boeliepolisie besoek laerskole in Upington


Die burgerregte-organisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan en Matteus het op 15 en 16 April 2019 besoek by die Primêre Skool Op Die Voorpos, die Voorbereidingskool Fanie Malan en die Rosendal Intermediêre Skool in Upington afgelê. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders, onderwysers en ouers in. Dit is vir AfriForum belangrik om saam met hierdie rolspelers te werk en hulle te bemagtig om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Op 15 April 2019 is ’n gesprek met die ouers van die gemeenskap in die saal van die Voorbereidingskool Fanie Malan gehou. 

“Dit is vir ons belangrik dat leerders die verskil tussen konflik en boeliegedrag verstaan en om ingelig te wees oor wat hulle moet doen as hulle hulself in ’n boelievoorval bevind. Elke onderwyser het ’n plakkaat ontvang van die les wat met die leerders behandel is. Die veldtog wil leerders aanmoedig om op te staan vir wat reg is en om as leiers op te tree en enige vorm van afknouery te ontmoedig,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se koördineerder vir leierskapsontwikkeling.
“Dit is belangrik om boeliebewusmaking in skole aan te bied sodat kinders kan weet wat boelie is en sodat prosedures by die skool in plek gestel kan word waar ’n kind dit met vrymoedigheid kan aanmeld. Dit is ook belangrik dat onderwysers weet hoe om boeliegedrag te hanteer,” sê Gonda Louw, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari.
 
“Voorbereidingskool Fanie Malan het saam met AfriForum die teenboelieveldtog aangepak. Altesaam 86 ouers het die aanbieding op 15 April bygewoon en die aanbieding is die volgende dag vir die leerders gedoen. Afknouery en boeliegedrag is ’n werklikheid. Dit is belangrik om met ouers en leerders hieroor te praat en hul kennis en insig daaroor te verbreed,” meen Deon Scheun, hoof van die Voorbereidingskool Fanie Malan.
“Boeliegedrag in skole is ’n reuseprobleem en dit is belangrik dat alles moontlik gedoen word om dit hok te slaan. Leerders moet met kennis bemagtig word om boeliegedrag te identifiseer en ook proaktief daarteen te kan optree. Dit is belangrik dat leerders ook afknouery moet rapporteer sodat skole daadwerklik teenoor boelies kan optree. Skole moet ’n veilige hawe vir ouers en kinders wees en dit is ’n skool se plig om ’n veilige omgewing daar te stel,” meen Ernest Beukes, waarnemende adjunkhoof van die Primêre Skool Op Die Voorpos.

Stuur ’n e-pos na leandie.brasler@afriforum.co.za indien jou kind se skool by hierdie veldtog en leierskapsontwikkeling betrokke wil raak of SMS die woord “Boelie” na 32532 (R1).

Soortgelyke plasings