Blou-en-groendruppelprojek: AfriForum toets watergehalte in Noordwes


AfriForum het water in 27 dorpe in Noordwes tydens Mei 2017 getoets om die gehalte van dié dorpe se drink- en behandelde afvalwater te bepaal. Sowat een miljoen mense gebruik hierdie water.
Die 27 dorpe is: Hartbeespoort, Brits, Mooinooi, Rustenburg, Buffelspoort, Swartruggens, Zeerust, Koster, Lichtenburg, Coligny, Wolmaransstad, Makwassie, Leeudoringstad, Klerksdorp, Orkney, Hartbeesfontein, Ventersdorp, Stilfontein, Potchefstroom, Sannieshof, Delareyville, Ottosdal, Bloemhof, Christiana, Schweizer-Reneke, Vryburg en Stella. Die Noordwes Universiteit (Potchefstroom-kampus) se water is ook apart getoets.

“Ons het vasgestel dat die drinkwater in die provinsie skoon is en geen swaarmetale bevat nie. Daarbenewens voldoen bakterieëvlakke aan toepaslike standaarde. AfriForum sal die watergehalte deurlopend toets om die grondwetlike regte van dorpsbewoners te beskerm en seker te maak dat hulle van skoon drinkwater voorsien word,” sê Tiaan Oosthuizen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Noordwes.

Die burgerregte-organisasie het egter sy kommer uitgespreek oor Hartbeespoort, Klerksdorp, Ottosdal, Potchefstroom, Schweizer-Reneke en Vryburg se behandelde afvalwater wat nie aan die gestelde standaarde voldoen nie. “Ons riviere word deurlopend deur ondoeltreffende rioolnetwerke besmet wat as gevolg van swak instandhouding deur die plaaslike munisipaliteite toenemend verval en ons waterbronne se gehalte bedreig,” sê Oosthuizen verder.
AfriForum se nasionale blou-en-groendruppelprojek fokus op die gehalte van dorpe se drinkwater en rioolaanlegte. Die projek fokus nie noodwendig op die toestand van die rioolaanleg nie, maar eerder op die watergehalte wat ná afloop van die proses as drinkwater (bloudruppel) of rioolwater (groendruppel) vrygelaat word.

“Ons versoek die inwoners van dié dorpe om AfriForum die mandaat te gee om die dorpe se watergehalte deurlopende te moniteer. SMS jou dorp se naam na 45351 om dié projek te ondersteun. Elke SMS kos R1,” sê Alta Pretorius, AfriForum se streekskoördineerder vir Stellaland.

Soortgelyke plasings