Spyskaart +

Bloem-buurtwagte wys hul staal

Augustus 20, 2015 deur Esmarie Prinsloo

Wanneer meer as honderd mense op ʼn misdaadnoodroep reageer, weet jy dié omgewing se buurtwagstelsel wérk. Dít was Dinsdagaand die geval in Langenhovenpark, Bloemfontein toe ʼn dame kort na 20:00 deur vier mans by haar huis ingewag is.

“Die dame het haar veiligheidsmaatskappy gekontak, en dié maatskappy het die voorval op die radionetwerk versprei. Binne minute was meer as 60 voertuie en minstens 100 mense van die AfriForum- en plaaslike GPF-buurtwagte op die toneel. Benewens lede van die AfriForum-buurtwag in Langenhovenpark, was lede van die AfriForum-buurtwagte in Fichardtpark, Hospitaalpark, Pellissier en Rayton/Heuwelsig óók daar,” sê Riaan Niemand, voorsitter van die Langenhovenpark-tak.

“Dit is fantasties om te sien hoe doeltreffend Bloemfonteiners kan saamwerk. Ons AfriForum-mense wil almal bedank vir hul flink optrede.”

Johann Hattingh, AfriForum se provinsiale koördineerder vir die Wes-Vrystaat sê hierdie suksesstorie is opnuut ʼn bewys waarom gemeenskappe veiligheidstrukture in plek moet hê.

“Hierdie gemeenskappe is uiters doeltreffend, omdat hulle toegewyd is om ʼn verskil te maak. Indien inwoners by ʼn buurtwag wil inskakel, kan hulle hul woonbuurt se naam SMS na 45266 teen R1.”

Die vier mans het op die vlug geslaan, en is steeds op vrye voet.