|

Bid, glo en vertrou is buurtwaglid se pleidooi ná hy geskiet is

Nico Henning (45), die AfriForum-buurtwaglid wat in Augustus tydens ’n rooftog in Pretoria-Wes met ’n AK-47 in die rug geskiet is, is stadig maar seker op die pad van herstel.

Henning het vandag in sy huis in Danville vertel wat presies op daardie dag gebeur het toe ’n werknemer van OK Grocer in Danville die buurtwag gekontak en vir bystand gevra het.

Henning en van sy kollegas het op die noodoproep gereageer, maar nie besef dit is ’n gewapende roof nie. “As ons dit geweet het, sou ons nie na die toneel gegaan het nie.”

Henning het in die spervuur van die rowers beland en ’n koeël het hom regdeur die agterkant van sy motor in die rug getref. Hy kon daarin slaag om tot by die huis te jaag, waarna sy vrou, Linda, hom na die Pretoria-Wes-hospitaal geneem het waar hulle niks vir hom kon doen nie. Daarna is hy na die Kalafong-hospitaal waar hy gestabiliseer is. Hy is daarna met die hulp van AfriForum per helikopter na die Milpark-hospitaal in Johannesburg geneem.

Henning het baie ernstige beserings opgedoen en tydens sy verblyf van ses weke in die hospitaal is sy linkernier, ’n stuk van sy lewer en ’n stuk van sy dikderm verwyder en sy dunderm herstel. Hy het ook skade aan sy pankreas opgedoen.

Die mediese span het gesê Henning sou verlam gewees het indien die koeël hom net 2 mm na regs in die rug getref het.

Henning, ’n werknemer van Transnet, sê hy besef dat die herstelpad nog lank is. “Ek word nog baie gou moeg en ek moet die dokter weer op 14 November sien.

“Ek was egter van die begin af positief en ek glo dat ek met die Here se hulp gaan regkom.”

Linda het vertel dat dit haar ergste vrees was dat sy haar man nooit weer gaan sien nie. “Hierdie ding het my hele siening oor die lewe verander. Om hom weer by die huis te hê, is die grootste geskenk wat ek kon kry.”

Die Hennings het groot lof vir die wyse waarop AfriForum hulle deurgaans bygestaan het. “Ons weet nie of ons hierdeur sou kom as dit nie AfriForum was nie.”
Henning hoop om in Januarie na sy werk te kan terugkeer.

Soortgelyke plasings