Beweerde munisipale wanbesteding in Postmasburg laat bloeddruk styg


AfriForum se Postmasburg-tak eis munisipale optrede nadat watertoevoer op Sondag, 29 Januarie 2017, drasties deur Sedibeng Water verminder is.
Die Tsantsabane munisipaliteit skuld klaarblyklik ongeveer R20 miljoen aan Sedibeng Water en daarom is die dorp se watertoevoer verminder.

“Dit is onregverdig dat getroue, betalende inwoners gestraf moet word omdat die munisipaliteit nie hulle skuld vereffen nie,” sê Gonda Louw, AfriForum se streekskoördineerder vir die Kalahari. “AfriForum het om hierdie rede die munisipaliteit op 30 Januarie 2017 skriftelik versoek om die watertoevoer ten volle te herstel en ons van ’n skriftelike plan te voorsien oor hoe hulle beoog om die agterstallige geld aan Sedibeng Water te betaal.”

AfriForum het ook met die departement van water en sanitasie geskakel om hul hulp in te win.

“Die munisipaliteit se skynbare swak hantering van finansies is kommerwekkend. Hulle het ook vir Eskom ’n groot bedrag geld geskuld. AfriForum gaan ’n aansoek in terme van die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting, 2000 bring om te bepaal hoe die munisipaliteit belastingbetalers se geld bestee, asook om uit te vind wat die munisipale bestuurder se kwalifikasies is,” sluit Louw af.

AfriForum gaan ook ’n petisie opstel om die inwoners se ontevredenheid onder die munisipaliteit se aandag te bring.
Raak vandag betrokke deur “Postmasburg” na 32532 te SMS (R1 per SMS).

Soortgelyke plasings