|

Betoging ruk handuit; Elsenburg-studente met swepe aangerand

Deur: Mariska Batt

Studente van die Elsenburg-landboukollege in die Wes-Kaap is vanoggend onder meer met swepe en sambokke aangerand tydens ʼn onwettige en gewelddadige betoging wat gister onder die leiding van EFF-lede en ʼn groep studente begin is. ’n Video van die aanranding, wat deur een van die nie-betogende studente afgeneem is, is vandag deur AfriForum Jeug bekend gestel. Die video wys ook hoe nie-betogende studente lede van die EFF van die perseel verwyder.

“Ons voel onveilig. Dit is besig om baie gewelddadig te raak en die bestuur en polisie staan net rond en kyk toe. Een van die studente wat raakgeslaan is, se nek is oopgekloof en hy moet mediese behandeling kry,” sê een van die studente, wat uit vrees vir viktimisasie nie sy naam genoem wil hê nie.

Nog ʼn student, wat ook nie haar naam wil noem nie, sê dat studente op hol is en dat mense van buite af ingery word om aan die betoging deel te neem.

“Ek voel baie bedreig. Betogers met rooi hoedjies, wat nie eers van Elsenburg af is nie,  staan oral rond en ons kan nie by ons klaslokale inkom nie. Ons het nou al twee toetse gemis omdat hulle die deure sluit en weier dat ons ingaan. Ons het wel die slotte vanoggend laat knip sodat ons kan toets skryf, maar toe ontstaan daar ʼn groot bakleiery in die toetslokaal. Ons kan al van gister af geen klasse bywoon nie. Sou klasse voortgaan, hoop ons om beskerm te word.”

“Die veiligheid van die studente is ons nommer een prioriteit, daarom het ons ʼn privaat sekuriteitsmaatskappy aangestel om die studente te beskerm. Ons is ook in die proses om ʼn hofinterdik te kry wat die bestuur van die kollege sal dwing om teen die betogers op te tree,” sê Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug.

Maree sê dat regsoptrede ook teen die polisie oorweeg word, wat op die perseel was, maar niks gedoen het nie.

Die betoging het gisteroggend reeds begin toe lede van die EFF by die kollege opgedaag het en saam met ʼn klein groepie studente klaskamers met kettings en slotte gesluit het. Betogers het studente glo ook in die gesig gespoeg, rassistiese opmerkings gemaak en hulle gevloek. Uitsprake soos “You f****ng white b*tch, what are you doing here?” is glo deur betogers geuiter.

Dié protes is egter nie die eerste een wat hierdie jaar by die Elsenburg plaasgevind het nie, en AfriForum Jeug is van mening dat die bestuur totale beheer oor die kollege verloor het.

Ontevredenheid aangaande taalkwessies het sowat ʼn maand gelede tot die eerste klasontwrigtings by die kollege gelei toe ʼn klein groep studente teen die huidige taalbeleid betoog het en vereis het dat alle klasse in Engels moet geskied. Die kollege het toe besluit om klasse voortaan net in Engels aan te bied, maar het die besluit egter vinnig teruggetrek na talle skrywes van onder andere ouers, studente, die Adam Tas Studentevereniging en AfriForum Jeug.

“Bemiddelaars is deur die departement van bosbou, landbou en visserye aangestel om samesprekings met alle belanghebbendes te hou om te verseker dat die hersiening van die taalbeleid vreedsaam geskied. Toe raak die EFF betrokke, wat tot die betogings van gister en vandag gelei het. Dit is egter duidelik dat dit vir die EFF nie oor taal gaan nie, maar oor ras,” sê Maree.

Kyk die video hier:

Soortgelyke plasings