|

Betogers vereis lys van “skole soos Overvaal”

Die Gautengse onderwysdepartement moet ’n lys van “wit skole soos Overvaal” oorhandig sodat “dié probleem van rassisme” by ander skole óók ondersoek kan word.

So lui die memorandum wat vandag tydens ’n massa-optog deur sowat 1000 betogers onder leiding van Cosatu aan die Hoërskool Overvaal en Gautengse onderwysdepartement oorhandig is.

Die EFF, ANC, ANC-jeugliga en die onderwysvakbonde Cosas en Sadou is van die 12 belangegroepe wat na dié skool in Vereeniging opgeruk het om ’n memorandum te oorhandig wat teen die skool se enkelmedium-taalbeleid beswaar maak.

Dit volg ná die Hoë Hof in Pretoria ’n opdrag deur die Gautengse onderwysdepartement dat die Hoërskool Overvaal 55 Engelssprekende leerlinge moet inneem, ter syde gestel het.

Dié enkelmedium Afrikaanse skool het in hofstukke aangevoer dat die skool vol is en dat hulle nie oor die hulpmiddele beskik om die leerlinge te akkommodeer nie. Daar is voorts twee Engelse skole in die omgewing waar die leerlinge geplaas kan word.

Vuyani Mpofu, adjunk-direkteurs-generaal van die Gautengse onderwysdepartement, en Hardus Visagie, voorsitter van die skool se beheerliggaam, het dié memorandum ontvang. Die volgende word daarin vereis:

  • Die 55 leerlinge moet dadelik in die skool aanvaar word;
  • die leerlinge moet toegelaat word om in Engels skool te gaan;
  • die skool se beheerliggaam moet dadelik ontbind;
  • die direkteur van die Gautengse onderwysdepartement moet die taalbeleidprobleme van alle skole in die Sedibeng-distrik ondersoek; en
  • die Gautengse onderwysdepartement moet die aansoeke van kinders ondersoek wat reeds in die skool aanvaar is en meer as 5km van die skool af bly.

Van die oproeriges het vandag baniere gedra met boodskappe soos “Mo*r die Boer” en “Ons het nie tyd vir die Afrikaans k@k nie”. Leerlinge van die Mahareng Secondary School en Lekoa Shandu Secondary School in Vanderbijlpark is ook tydens skoolure by dié optog betrek.

Sedert verlede Woensdag is daar byna elke dag betogers wat onluste buite die skoolterrein veroorsaak. Die betogers maak ook verskeie dreigemente sou die departement nie aan hul eise gehoor gee nie.

Die skool en die departement het sewe dae om gehoor aan dié memorandum te gee.

 

Soortgelyke plasings