|

Bethlehem Museum: Waar ’n gemeenskap die toekoms van hulle verlede verseker

Deur Alana Bailey

In 2017 het AfriForum die eerste keer met die voorsitter van die Bethlehem Museumtrust, mnr. Danie Eichstädt, en sy mede-trustees kontak gehad. Hulle het hulle museum en wenslys onder AfriForum se aandag gebring.

Die Bethlehem Museum is in 1964 deur die dorpsraad tot stand gebring as deel van dié dorp se eeufeesvieringe. Die hoofgebou op die museumterrein is die Nazareth Sendingkerk, wat in 1905 as tweede sendingkerk van die NG Kerk in die Vrystaat gebou is.

Hierdie museum met sy ryk versameling kultuurhistoriese voorwerpe het tans ’n groeiende reputasie as een van die beste plattelandse museums in die land.  Dit is ’n noodsaaklike besoekpunt vir enigeen met ’n liefde vir geskiedenis, veral die geskiedenis van hierdie deel van die Vrystaat.

Meer merkwaardig is dat dit ten volle deur vrywilligers bestuur word. Hoewel dit aanvanklik deur die plaaslike owerheid onderhou is, kon die munisipaliteit later nie meer die koste van die museum dra nie.  Die Trust se fondse kon ook nie meer die salaris van ’n opsigter of alle nodige restourasiekoste dek nie.  Lede van die Trust en van Vriende van die Bethlehem Museum maak dus beurte om die museum en voorwerpe skoon te maak en as opsigters diens te doen wanneer besoekers ontvang word.

Na die aanvanklike kontak in 2017 het AfriForum ’n klein skenking aan die Trust gemaak. ’n Jaar later is dit wonderlik om te sien wat intussen deur die Trust en Vriende vermag is. Foto’s vertel van die sukses van hulle ywer.

Onder meer is die Riddell-geboutjie pragtig gerestoureer. Dit was voorheen die brandweerstasie van die dorp. Later is dit deur “Oubaas” Riddell as kleremakerswinkel ingespan. Die gebou is uiteindelik na die museumterrein verskuif, waar dit nou as vergaderplek vir welwillende organisasies soos die Tuinbouklub en Veteraan Motorklub gebruik word. Dit word tans as “stasiekafee” ingerig, sodat besoekers versnaperings daar kan geniet en kinderpartytjies daar aangebied kan word.

Die vervoermiddels op die terrein is groot gunstelinge vir die besoekers. Vriende het die John Deere-trekker onlangs tot sy eertydse glorie herstel. Die stoommasjien word deesdae uit wind en weer bewaar, maar het heelwat duur herstelwerk nodig om weer in werkende toestand te kom.  Kinders (en ouers!) is natuurlik versot op die miniatuurtreintjie waarop hulle op die terrein kan ry. ’n Spogstuk is die eerste brandweerwa van Bethlehem, wat doelgemaak van Amerika ingevoer is. Dit is deur Tertius du Preez op die koste van die Vriende gerestoureer en is nou in die museum se alleenbesit.

Waar moontlik sal die munisipaliteit soms arbeid vir instandhouding van die geboue voorsien, of boompies vir die tuin, maar hierdie hulp is ’n druppel in die emmer en nie voldoende om die voortbestaan van die museum te verseker nie. Sonder die energieke werksaamhede van die groep vrywilligers en die ondersteuning van die publiek, sou hierdie kultuurskat al lankal verlore gegaan het.

Hulle is ook vol planne om die museum nog verder op te gradeer en selfs meer aan besoekers te bied, soos byvoorbeeld om ’n vertoonlokaal vir veteraanmotors met outydse petrolpompe ingesluit, op te rig, na die dorp se eerste skoolgebou te help omsien, tradisionele Sotho- en Zoeloehutte op die terrein te bou, asook ablusie- en kombuisgeriewe op te gradeer.

Dit is vir AfriForum ’n voorreg om ’n klein bydrae tot hierdie inspirerende erfenisprojek te maak, maar Bethlehem Museum het alle geskiedenisliefhebbers se hulp nodig.

Enige donasie sal verwelkom en met groot vrug aangewend word. Skenkings kan inbetaal word in die tjekrekening van die Bethlehem Museumtrust, nommer 770-156-742, ABSA (Bethlehem-takkode 632-005).

Eichstädt vra dat skenkers asseblief hulle kontakbesonderhede aan Tertius du Preez, die tesourier, moet SMS by 082-889-4294, sodat hulle behoorlik bedank kan word. Die Trust sal ook graag hul begroting aan mense deurgee wat daarna wil kyk.

Die museum is sonder twyfel ’n besoek werd. Maak net seker van besoektye by Danie Eichstädt (082-336-2353) of Pieter Olivier (082-293-0680).

Soortgelyke plasings