|

Bethal se strate word herstel  

Die AfriForum-tak in Bethal het op 22 September in samewerking met die inwoners slaggate herstel. Hierdie projek word al vir die laaste vier jaar deur AfriForum gedryf na die Govan Mbeki Munisipaliteit versuim het om die paaie te herstel.

In 2016 het AfriForum Kleynhansstraat tussen die N17 en Malherbestraat teen ’n koste van R35 000 herstel. Hierdie pad is een van die besigste paaie in die dorp en vragmotors wat hierdie pad onwettig gebruik veroorsaak dat deurlopende instandhouding nodig is.

Onder leiding van Frans Odendaal hou inwoners van die straat nou jaarliks ’n fondsinsameling om die teer aan te koop om die pad te herstel. Daar is tydens die insameling meer as R6 000 ingesamel om teer aan te koop. Daar is sowat 250 sakke teer gebruik om hierdie slaggate te herstel.

Die AfriForum-tak in Bethal het bygedra om die herstelwerk te doen. Daar is tydens die projek herstelwerk aan Clerque-, Kleynhans-, Malherbe- en Tsibitso Sibanyonistraat gedoen.

“Hierdie is ’n uitstekende voorbeeld van hoe ’n gemeenskap saam kan werk om probleme self op te los,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld.

Maak ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap en sluit aan by jou naaste tak. SMS “Bethal” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings