Besoedeling van Hartenbosrivier – AfriForum gryp in


Ammoniakvlakke in die Hartenbosrivier het vir die soveelste keer buitengewoon gestyg weens onklaar rioolwerke wat skoon ammoniak in die rivier stort. Besoedelde water het ook oor die pad gestoot en in die Hartenbosrivieroord ingeloop. Voortgesette druk deur AfriForum se Mosselbaai-tak en die ondersteuning van die Mosselbaai Munisipaliteit het egter daartoe gelei dat die riviermond op 22 Februarie 2017 oopgemaak is sodat die ammoniak in die see kon verdun.

“Dieselfde scenario het homself in Oktober 2016 afgespeel en die akwatiese lewe in die rivier heeltemal uitgewis. Visvrektes sou nie so beduidend gewees het as die riviermond dadelik oopgestoot was nie. Daar was egter soveel rompslomp wat oorkom moes word voordat die munisipaliteit toestemming kon kry om die mond oop te stoot dat onherstelbare skade reeds aangerig was teen die tyd dat toestemming wél verkry is,” sê Kobus Neethling, voorsitter van AfriForum se Mosselbaai-tak se omgewingsakeportefeulje en ook voorsitter van die Mosselbaai-riviermondforum.
“Daar is verskeie botsende wetgewings en regulasies wat deur die departemente van omgewingsake en landbou, bosbou en visserye, asook die Wes-Kaapse Natuurbewaringsraad uitgevaardig is. Dit maak dit haas onmoontlik om toestemming te verkry om enige riviermond in die Wes-Kaap oop te maak,” sê Thomas van Dalen, AfriForum se Wes-Kaapse koördineerder.

“Danksy uitstekende samewerking van Warren Manuel, ’n munisipale amptenaar, en raadslid Anton Dellemijn, asook die tydige ingryping van adv. Thys Gilliomee, die munisipale bestuurder, wat binne 20 minute toestemming verkry het om die riviermond op 22 Februarie 2017 oop te maak, is ’n verdere ramp verhoed,” sluit Neethling af.

AfriForum sal voortgaan om die situasie by die Hartenbosrivier te monitor.
SMS jou naam na 45265 om ’n lid van die organisasie te word (R1 per SMS).

Soortgelyke plasings