|

Besigheidsbytjies

Deur: Sanderien van der Walt

Vanjaar het AfriVriendelik en AfriForum Onderwys besluit om saam te werk en ’n kompetisie – Besigheidsbytjies – vir junior entrepreneurs van stapel te stuur.

Die doel is ook om jong kinders se entrepreneursvaardighede van vroeg af te ontwikkel. AfriForum Onderwys glo die Besigheidsbytjies-kompetisie sal ook leerders se leierseienskappe ontwikkel en hulle leer om self verantwoordelikheid te neem om hul idees uit te voer. Dit sal hulle ook aanmoedig om ’n verskil in die samelewing en in ons land te maak. Ons kinders is immers die leiers van die toekoms, en hulle kan hoop skep deur van jongs af aan hul toekoms te bou.

Mens lees gereeld oor suksesvolle besigheidsmanne en ‑vroue en wonder dan of hulle nog altyd suksesvol was. Meestal deel hulle graag ’n eenvoudige geheim rakende hulle sukses – harde werk. Soms dink ons hulle is in ’n familie gebore wat reeds ’n onderneming besit het en dat dit dus maklik was om op die sukses voort te bou. Soms is dit wel so, maar in die meeste gevalle is dit dié wat van kindsbeen af hard gewerk het wat kop en skouers bo die res uitstaan.

Whitey Basson, die voormalige baas van Shoprite, het van kleins af hard gewerk en omtrent twee jaar gelede as ’n miljardêr afgetree. Een van sy sakegeheime was dat as hy vandag ’n besluit geneem het, dit môre geïmplementeer moes word en dat daar oormôre aksie moes wees. ’n Ander geheim was dat die produkte in sy winkel altyd goedkoper moes wees as dié van sy mededingers en dat mens altyd Shoprite se varsgebakte brood vir R4,99 kon koop. Een van sy beste eienskappe was dat hy sy mark geken het, en dit het hom suksesvol gemaak. As mense jou besigheid is, moet jy jou mense ken. As vrugte jou besigheid is, ken jou vrugte.

Nog iemand by wie ons kan gaan kers opsteek is Hendrik Marais, die baas van Eureka – ’n winkel wat gom en skroewe verkoop. Hy was as kind brandarm en het met pynappels gesmous om ’n geldjie te maak. Een van sy geheime is dat jy sal weet waar om geleenthede raak te sien as jy die bedryf goed ken. Hy glo verder dat kliënte altyd waarde vir hul geld moet kry.

Die jongste entrepreneur wat ons inspireer is Karla Swanepoel, wat verlede jaar haar een-en-twintigste verjaarsdag gevier het. Karla is die trotse eienaar en stigter van Flink. Sy het van ’n jong ouderdom af gedroom om eendag haar eie onderneming te begin, en haar droom is uiteindelik vroeg in 2018 verwesenlik. Na baie ure se wakker lê, navorsing, e-posse, sweet en trane het Flink op 21 Mei 2018 die lig gesien. Haar droom het sonder finansiële hulp, ervaring of kennis begin. Met baie waagmoed, entoesiasme en ondersteuning kan sy egter nou daagliks haar passie uitleef.

ʼn Mens kan ʼn goue draad sien in die kennis wat ervare besigheidseienaars bymekaar gemaak het en waaruit jong entrepreneurs ook kan leer:

  1. Ken jou mark/bedryf.
  2. Kliënte moet waarde vir hulle geld kry.
  3. Jy hoef nie noodwendig met hope kapitaal te begin nie.
  4. Werk hard!

Soortgelyke plasings