Besigheidsbytjies: Dagboekhou help junior entrepreneurs om sukses te behaal

Deur Leandie Bräsler

Van die suksesvolste mense ter wêreld beskou dagboekhou as ‘n belangrike en kragtige gewoonte. Deur eenvoudig daagliks of weekliks jou gedagtes, idees en ervarings in jou dagboek of joernaal neer te skryf, kan jy jou spanning verminder, beter fokus en jou algehele welstand verbeter. Jy raak nie net ontslae van angstigheid en vrese nie, maar kan terselfdertyd jou doelwitte neerskryf en vir jouself aanspreeklikheid skep.

Dit is goed vir kinders om al van jongs af te leer wat verantwoordelikheid beteken en dat hulle verantwoordelik is vir sekere dinge soos hul eie besigheid. Dié wat graag hul eie besigheid wil begin of dit reeds begin het, kan ook baat vind by dagboekhou. Dit bied hulle geleentheid vir selfrefleksie en om hulle drome neer te pen of te teken.

Dagboekinskrywings kan op vier maniere ‘n verskil maak in enige kind of tiener wat hul drome wil najaag en hul eie besigheid wil besit se lewe.

1          Almal kan dagboek hou

Een van die mites oor dagboekhou is dat dit slegs vir skrywers is. Niks kan verder van die waarheid af wees nie! Jy hoef nie ‘n uitstekende skrywer te wees of selfs van tradisionele skryfwerk te hou om voordeel te trek uit dagboekhou of om dit te geniet nie.

Dagboekhou gaan nie primêr oor skryf nie, maar eerder oor die identifisering, begrip en katalogisering van jou gedagtes. Met ‘n dagboek is daar geen reëls nie! Hoewel jy natuurlik altyd probeer om reg te spel omdat jy trots is op jou taal, hoef jy nie perfekte grammatika te gebruik, perfek te spel of in enige vooraf gedefinieerde formaat te skryf nie. Die wonderlikste is dat jy jou dagboek oral heen kan saamvat, ongeag of jy op papier, ‘n rekenaar of ‘n selfoontoep skryf.

Junior entrepreneurs van enige ouderdom, geslag of agtergrond kan baat vind by dagboekhou – of dit nou oor hul besigheid of hul persoonlike lewe gaan. Die volgende is ‘n paar beroemde visioenêre en suksesvolle entrepreneurs wat dagboek hou of gehou het:

  • Albert Einstein (uitvinder)
  • Leandie du Randt (aktrise en entrepreneur)
  • Emma Watson (aktrise)
  • Oprah Winfrey (entrepreneur)
  • Albert van Wyk (entrepreneur)
  • Taylor Swift (sangeres)
  • Richard Branson (entrepreneur)

2          Dagboekhou help om spanning te bestuur

Om ‘n besigheid te bestuur, kan baie belonend wees, maar dis harde werk. Soms kan dit ‘n junior entrepreneur ‘n bietjie oorweldig laat voel en gespanne maak. As jy jou frustrasies, woede of teleurstelling in jou dagboek neerpen, kan dit help om stres te verlig en innerlike vrede te bewerkstellig. Dit bied ook ‘n veilige ruimte vir dinge wat jy nie met iemand anders wil deel nie en moedig kreatiwiteit aan. As jy ‘n probleem neerskryf, kan dit jou help om ‘n oplossing daarvoor te kry.

Onthou, jy kan die positiewe kant van die lewe en jou besigheid ook met jou dagboek deel. Om jou suksesse te vier, is net so belangrik soos om jou uitdagings neer te skryf. Dit herinner jou hoe ver jy al gekom het en hoe toegewyd jy aan jou drome is.

3          Dagboekhou help om jou doelwitte te bereik

Een van die kragtigste voordele van dagboekhou is aanspreeklikheid. Moedig jou kinders aan om oor hul sake- en lewensdoelwitte te skryf. Hulle kan korttermyn- en langtermyndoelstellings neerskryf asook die besonderhede wat hulle dink noodsaaklik is om hulle te help om daardie mylpale te bereik.

Voorbeelde van korttermyndoelstellings sluit in ‘n bemarkingsplan om hul idee op sosiale media aan beleggers voor te stel, verhoging van hul maandelikse verkope, en om hul klante per e-pos te bedank.

Voorbeelde van langtermyndoelstellings sluit in die oprigting van ‘n aanlyn winkel, die reservering van ‘n tafel by ‘n plaaslike besigheid of kunsmark, om besighede te nader aan wie hulle voorraad wil verskaf, en om ‘n spanlid te kry.

Herinner jou kinders om gereeld na die doelwitte in hul dagboek te kyk en hulle vordering, terugslae en suksesse aan te teken.

4          Dagboekhou is ‘n nimmereindigende geskenk

Dagboekhou is uitstekend vir ‘n kind se algehele welstand – en dis boonop gratis. Jou kind kan dadelik daarmee begin.

Laat jou kinders toe om hul gunstelingdagboek of ‘n plek aanlyn of op hul rekenaar te kies om met hul dagboek te begin. As hulle die aanlyn roete kies, kan hulle Google Docs, Word of ‘n soortgelyke program gebruik om inskrywings in te tik en dit op hul rekenaar te stoor. Ander nuttige opsies sluit aanlyn dagboekprogramme en webwerwe in. Gee vir hulle genoeg tyd om rustig en toegewyd oor hul besigheidsdoelwitte, hul ervarings as junior entrepreneurs en hul lewensreis te besin.

Binnekort sal hulle die dagboekhouery geniet en ontwikkel in selfversekerde, suksesvolle entrepreneurs wat nie bang is om risiko’s te loop nie.

 

Soortgelyke plasings