|

Bennie Roux #HardloopvirHoop om geld vir geweldslagoffers in te samel

Bennie Roux (41), ’n ultramarathonatleet van Centurion, gaan aanstaande week honderde kilometers in die Vrystaat aflê om geld vir AfriForum se Trauma-ondersteuningseenheid in te samel.

AfriForum se Trauma-ondersteuningseenheid lewer ’n baie unieke, persoonlike diens aan slagoffers van geweldsmisdaad – veral slagoffers van plaasaanvalle. Die eenheid is in 2015 gestig en het sedertdien uitgebrei weens die toename in misdaad en veral plaasaanvalle. Die eenheid het al 238 mense ondersteun, waarvan 38 kinders is. Die Trauma-ondersteuningseenheid verskaf ook kos aan behoeftige slagoffers en bied ondersteuning met byvoorbeeld basiese mediese uitdagings, die voorsiening van klere, hofsake, die afneem van verklarings en, in sekere gevalle, die nodige sielkundige ondersteuning.

Só lyk Roux se #HardloopvirHoop-roete van 22 tot 26 Oktober 2019:

  • 22 Oktober: Roux spring weg in Villiers en hardloop grondpad tot in Frankfort. Hy gaan om 13:30 ’n muntlegging by die Hoërskool Wilgerivier in Frankfort hou.
  • 23 Oktober: Hy spring by die Frankfort-gholfklub weg en hardloop tot in Reitz. Roux gaan om 13:30 ’n muntlegging by Hoërskool Reitz hou.
  • 24 Oktober: Roux spring by die Hoërskool Reitz weg en hardloop na Bethlehem. Hy gaan om 17:00 by die Christensentrum in Bethlehem wees.
  • 25 Oktober: Roux spring weg by Lavender Hill op die N5 en hardloop na Fouriesburg, waar daar om 12:00 ’n poeierverfpretloop by Fouriesburg Intermediêre Skool gaan plaasvind.
  • 26 Oktober: Hy spring in Fouriesburg weg en sluit die dag by die Roosfees by die Oranje Gasteplaas af.

Meer besonderhede sal in latere media-uitnodigings gegee word.

Die publiek kan ’n bydrae lewer om die #HardloopvirHoop-projek te ondersteun:

  • Deel #HardloopvirHoop-plasings en -artikels op AfriForum se Facebook-blad met al jou vriende.
  • Maak ’n skenking of donasie: Skenk ’n bedrag per km (50 sent, R1, R5, R100 en so meer: 50 sent per km is byvoorbeeld R125).
  • Borg beskikbare pakkette wat vir ’n Artikel 18A-belastingsertifikaat kwalifiseer.

Kontak trauma@afriforum.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings