Begrotingsrede: AfriForum kap Gigaba oor gratis hoër onderrig


AfriForum is van mening dat die minister van finansies, Malusi Gigaba, en die ANC-regering se vryery na gratis hoër onderrig blote politiekery is. AfriForum glo dat gratis hoër onderrig opgestel is om te misluk.
Dié uitspraak volg nadat Gigaba in die begrotingsrede aangekondig het dat uit ʼn totaal van R324 miljard wat vir hoër onderwys en opleiding geallokeer is, die bedrag van R57 miljard aan ingefaseerde gratis hoër onderwys oor die volgende drie jaar toegeken word; hiervan sal R12,4 miljard na behoeftige eerstejaarstudente in 2018/2019 gaan.

“Die regering voer aan dat gratis hoër onderrig ten doel het om aan arm mense die geleentheid te gee om universiteit toe te gaan. Dít terwyl slegs 5% van arm mense toelating tot universiteit kry as gevolg van die swak toestand van Suid-Afrikaanse skole,” sê Monique Taute, nasionale woordvoerder vir AfriForum.
Taute sê voorts dat 63% van studente wat deur die Nasionale Studente Finansiële Hulpskema (NSFAS) gehelp word, binne vyf jaar op universiteit uitsak – ’n verdere bewys dat gratis hoër onderrig bestem is om te faal. Slegs 8% van diegene in Suid-Afrika met ’n naskoolse kwalifikasie het dit binne ses jaar behaal. “Stel jou voor wat die uiteinde hiervan sou wees as gratis universiteite en kolleges sou realiseer,” sê Taute.
“AfriForum meen dat die geld beter aangewend kan word deur ons skolestelsel reg te ruk. As 80% van ons skole nie wanfunksioneel was nie, kon dít help om die onaanvaarbare hoë uitsaksyfer op universiteite en kolleges drasties te verminder,” sluit sy af.

Soortgelyke plasings