--> -->
Spyskaart +

Bedrieglike grondeise is meer as net irritasies

Februarie 25, 2019 deur Mareli Rall

Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum

Ondanks die behoefte om verstandige grondhervorming in Suid-Afrika tot stand te bring – veral die verdeling van ongebruikte staatsgrond na mense wat inderdaad kán en ook wíl boer – moet die opportunisme en korrupsie wat met baie grondeise gepaard gaan met ywer beveg word. Bedrieglike grondeise kom nie net op oneerlikheid en onetiese optrede neer nie (wat ook al die uiteindelike uitkoms van dié eise), maar is ook duur, omslagtig en gevaarlik, en keer skaars hulpbronne weg van dringender prioriteite. 

Hoewel grondeise ’n fyn skyn van regverdige vergelding en die herstel van vroeëre onregte het, is die waarheid dikwels veel komplekser en minder simpatiek. En die staat se aandadigheid aan en onbevoegdheid in hierdie opsig is skreiend.

AfriForum het oor die laaste paar jaar verskeie grondeise in die groter Tshwane-omgewing teengestaan, en dit het sonder uitsondering bewys hoe bedrieglik hierdie eise, die proses en die staat se ingryping is. ’n Suksesvolle eis in Wallmansthal naby Hammanskraal het byvoorbeeld geen voordeel vir die eisers ingehou nie. Geen titelaktes is uitgereik nie en sommige eisers beset nou nabygeleë grond onwettig.

’n Vyf jaar oue eis van die Bakgatla ba Lukhuleni-gemeenskap op groot dele van die ooste van Pretoria en Cullinan – ook deur AfriForum teengestaan – sleep tot vandag toe voort weens die Grondeisekommissie se koppigheid en belemmering. Die eis is reeds in 1996 ingedien, voordat dit wettig was om dit te doen. Dit is uiteindelik (en heel onderduims) in Desember 2014 deur die Kommissie goedgekeur. Dit sleep sedertdien steeds voort sonder dat enige oplossing in die vooruitsig gestel word omdat die Kommissie onwillig is om geleenthede by te woon om die saak te probeer besleg.

Boonop het ’n groep van 39 eisers in 1998 ’n eis op groot stroke grond in die suidelike, westelike en oostelike dele van Centurion ingedien. Dié eis het weer eens in 2018 “herleef” en is spoedig deur die Streeksgrondeisekommissie goedgekeur. Dit is in Desember 2018 in die Staatskoerant gepubliseer – toe die meeste van die betrokke partye (die huidige eienaars in die opgeëiste gebiede) met verlof was. Weer eens is dit onderduims en sonder enige trompetgeskal gedoen om so min as moontlik mediadruk en teenkanting te ontlok.

Die eis hou verband met beweerde onteienings wat tussen die 1960’s en vroeë 1980’s plaasgevind het. Buiten een persoon stam al 39 eisers van die “oorspronklike onteiende persone” af. Verskeie is kleinkinders van dié persone, waarvan almal buiten een oorlede is. Hul verhale is opgeteken in ’n verslag deur die Streeksgrondeisekommissie, en die eisers eis sowel voordeligeverblyf- as huurregte, maar geen volstrekte eienaarskap van die betrokke grond nie. Die opgeëiste gebied beslaan sowat 3 500 hektaar.

Asof die tydsberekening van die verslag nie sinister genoeg is nie, is die verslag wat gebruik is om die wyse te verskoon waarop die grondeis ingedien is, asook die aanvaarding en publikasie daarvan in die Staatskoerant, eensydig en twyfelagtig.

Eerstens is dit met spel- en grammatikafoute besaai, en lyk dit glad nie na ’n dokument wat professioneel opgestel is nie.

Die verduideliking vir die 20 jaar wat dit geneem het om die eis uiteindelik te aanvaar en in die Staatskoerant te publiseer, is dat die Kommissie tyd benodig het om navorsing te doen en die verslag op te stel. Die verslag bestaan uit sowat 40 bladsye, waarvan groot dele eenvoudige generiese inligting bevat, en inligting wat reeds in 1998 voorsien is. Dit is twyfelagtig dat dit 20 jaar sou neem om ’n relatief kort verslag soos dié een op te stel. Indien dit wel so lank geneem het, is dit net nóg ’n droewige weerspieëling van die staat se onbekwaamheid om dit af te handel.

Buiten die tegniese foute wat in die dokument voorkom, word daar blatante erkennings in die dokument gemaak oor die onbehoorlike vaslegging van inligting in dié eis. Dit mag tot ’n paar prosedurele vrae lei as die eis in die hof eindig. Sommige van dié erkennings van weglatings lui soos volg:

In paragraph 2 of the land claim form, the land claimant omitted to mention the Department/ body that acquired the property.

In paragraph 2.1 of the claim form, the claimant omitted to mention the year in which the property was acquired.

In paragraphs 2.2 & 2.3 of the claim form the claimant omitted to mention that nothing was paid to the families as compensation for the property and further that no alternative land or housing was provided.

In paragraph 5 of the land claim form, the land claimant omitted to name the people who might have an interest on [sic] the land claim.

Die grondeis is ingestel deur mnr Zulu Kleinbooi Mahlangu in sy hoedanigheid as die direkte afstammeling en namens die ander afstammelinge van die oorspronklik onteiende persone, naamlik sy grootouers, mnr Bezwane Geelbooi Mahlangu (oorlede) en sy twee vroue, me Naskhosana  Mahlangu (oorlede) en me Nomasangu Skhosana (oorlede); en ook namens  die direkte afstammelinge van die ander 38 oorspronklik onteiende persone (almal word in die verslag genoem).

Mnr Zulu Kleinbooi Mahlangu se weergawe in die verslag lees soos volg:

Mr Zulu Kleinbooi Mahlangu’s grandfather was employed by Mr MC Opperman as a farm labourer. He worked for three months to guarantee his stay on the farm. He was also financially remunerated for the three months that he was employed. Mr Zulu Kleinbooly [sic] Mahlangu’s family enjoyed residential, ploughing, grazing, burial rights . . . Mr Zulu Kleinbooi Mahlangu’s uncles and aunts worked on the farm as farm labourers.

. . . In 1968 Mr MC Opperman issued ‘trek-pass’ and told his grandparents to vacate the area within the next seven days. Mr Zuluboy [sic] Mahlangu’s family was never given a reason for the forced removal.

“Mr Zulu Kleinbooi Mahlangu’s grandparents hired trucks from a white man known to the family as Mr Masilela.

Buiten die beëdigde verklaring word geen ander bewysstukke – empiries of andersins – aangebied nie. Dit is ook hoogs onwaarskynlik dat ’n wit man in die 1960’s ’n voornaam of van soos “Masilela” sou gehad het.

Verskeie van die eisers se weergawes word deur beëdigde verklarings vergesel, maar verskeie word deur mondelinge vraelyste (“oral questionnaires”) ondersteun. Boonop het die interne navorsingspan wat die dokument opgestel het, staat gemaak op “deeds search[es], archival information search[es], obtaining diagrams or topographical images and also conducting inspection[s] of the claimed land”.

Gevolglik is geen empiriese of behoorlike antropologiese navorsing gedoen om te bewys of die grondeise geldig is nie. Hoorsê en onvolledige inligting van mense met ’n gevestigde belang in ’n grondeis wat biljoene werd is, is op gesigswaarde geneem en as die waarheid aanvaar. Hul beëdigde verklarings is geensins die finale bewys dat hul stories waar is nie.

’n Ondersoek deur die departement van grondsake en landelike ontwikkeling onder 22 van die 39 eisers in dié spesifieke eis het veelseggende bevindinge ontbloot. Sowat 63% – bykans tweederdes – van die eisers stel slegs belang in finansiële vergoeding; 31% kies ’n kombinasie van finansiële vergoeding en grond; en net 4% kies grond.

Mens kan maar net spekuleer oor wat tot die vordering van die grondeis gelei het. Die staat, wat namens die eisers optree, het bes moontlik ’n 20 jaar oue  eis afgestof in ruil vir een of ander gunsloon as die eis nie betwis word nie en die aansienlike uitbetaling met belastinggeld gemaak word. As die vlak van korrupsie in Suid-Afrika en daaglikse mediaberigte hieroor in ag geneem word, is dit geensins ’n verregaande scenario nie.

Sou eise soos dié onbetwis word en suksesvol wees op grond van die eiser se opportunisme, gulsigheid en wolhaarstories, sal eiendomsreg in Suid-Afrika verdwyn. En as groot somme geld aanhou uitbetaal word as deel van korrupte, ongeldige grondeise, sal ander meer dringende prioriteite hieronder lei, terwyl belastinggeld vermors word.

Uiteindelik is bedrieglike grondeise meer as net irritasies. Dit is gevaarlike bedreigings. Kom ons fokus op wat in geheel vir die gemeenskap saak maak, en hou op om die ongeregverdigde hebsug van ’n paar persone te versadig.