|

Barolong Boo Seleka koninklike familie behaal waterskeidingsukses met AfriForum-steun

Verlof tot appèl is vandag in die hooggeregshof in Bloemfontein, met AfriForum se steun, aan die koninklike familie van die Barolong Boo Seleka tradisionele gemeenskap van Thaba ’Nchu toegestaan om teen ’n hofuitspraak van September 2019 te appelleer. In laasgenoemde uitspraak het die hof geweier om ’n verslag van die Kommissie vir Tradisionele Leierskapdispute en -Eise tersyde te stel en ook geweier om die aanstelling van ’n nuwe kgosi (senior tradisionele leier) deur Ace Magashule tersyde te stel. Vandag se uitspraak baan die weg om die onregmatige oordrag van mag vanaf die koninklike familie na ’n persoon van buite die koninklike familie finaal tersyde te stel.

Dít volg nadat ’n dispuutgroep ontstaan het ná die koninklike familie kgosatsana (prinses) Moipone Moroka aangewys het om haar broer, kgosi Gaopalelwe Moroka, ná sy afsterwe as kgosi op te volg. Dié groep was na bewering ontevrede met die aanstelling van ’n vrou in hierdie senior tradisionele leiersrol.

Ace Magashule, voormalige premier van die Vrystaat, het die Kommissie vir Tradisionele Leierskapdispute en -Eise destyds opdrag gegee om die saak te ondersoek. Tydens hierdie ondersoek het die dispuutgroep die gronde van hulle beswaar gewysig en aangevoer dat die regerende koninklike familie se aanspraak op die leierskap ongeldig is weens die beweerde onbehoorlike opvolging van kgosi Moroka II deur kgosi Tshipinare in 1880, ongeveer 140 jaar gelede. Op grond van ’n baie gebrekkige verslag deur die Kommissie het Magashule besluit om die leierskap van die regerende koninklike familie van die Barolong Boo Seleka te beëindig, wat aanleiding gegee het tot die regstryd wat steeds woed.

“Hierdie is ’n groot oorwinning vir ons, dit is werklik ’n waterskeidingsoomblik. Die saak het nou ’n wending in ons guns geneem; nou kan geregtigheid geskied. Dit is vir ons as koninklike familie duidelik dat die dispuutgroep nie werklik die belange van die gemeenskap op die hart dra nie; dit gaan vir hulle oor posisies. Die dispuutgroep se optrede lei tot onstabiliteit in ons plaaslike gemeenskappe, wat sedert die vroeë 1800’s al deur ons as koninklike familie gedien word. Daar word nou stories versprei dat die koninklike familie grond aan AfriForum wil verkoop, maar dit is van alle waarheid ontbloot. Ons is verder diep teleurgesteld en baie seergemaak deur die totale gebrek aan respek waarmee ons as koninklike familie deur regeringsamptenare behandel word. Dit is nog meer onrusbarend dat die hofstukke wat die regering voorheen ingedien het, ontken dat ek ’n prinses en my ma ’n koningin is. Dit is baie duidelik dat hulle besluit het om ons van ons identiteit te ontneem – ’n identiteit waarmee ons gebore is,” sê kgosatsana Gabo Moroka (Motshabi), woordvoerder van die koninklike familie.

“Ons gaan onmiddellik voort met die aanteken van appèl in die hoogste hof van appèl. Ons kan nie toelaat dat die politieke tentakels van staatskapers belangrike gemeenskapsinstellings soos tradisionele rade binnedring en die mag vir eie gewin oorneem ten koste van gemeenskappe op voetsoolvlak nie,” sê Barend Uys, wat by AfriForum vir interkulturele samewerking verantwoordelik is.

AfriForum het sy regspan op 20 Januarie 2020 opdrag gegee om by dié tradisioneleleierskapsaak betrokke te raak ná ’n vergadering met die koninklike familie.

Soortgelyke plasings