|

Arrestasielasbriewe vir twee vermeende moordenaars van voormalige Rwandese intelligensiehoof uitgereik

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, in kennis gestel dat die NVG lasbriewe bekom het vir die arrestasie van twee van die vier vermeende moordenaars van kol. Patrick Karegeya, voormalige intelligensiehoof van Rwanda. Die NVG is ook in die proses om aansoek te doen vir die uitlewering van Ismael Gafaranga en Alex Sugira. Sodra die uitleweringsaansoeke toegestaan is, sal die NVG by Interpol aansoek doen vir die uitreik van sogenaamde “rooi kennisgewings” vir die twee verdagtes.

Dít volg nadat adv. Nel en AfriForum se privaatvervolgingseenheid die Karegeya-familie bygestaan het met ’n informele geregtelike ondersoek na die dood van Karegeya. Die Randburgse landdroshof het in April vanjaar die saak terugverwys na die NVG om te besluit of hulle die verantwoordelike verdagtes, soos beslis in die hof se bevinding, gaan vervolg.

Volgens adv. Nel is die NVG se aankondiging ’n groot oorwinning. “Dit is egter ook ’n aanduiding dat die NVG die regstelsel misbruik het aangesien daar sonder enige verdere ondersoek lasbriewe uitgereik is. Dít nadat die NVG aangedui het dat hulle nie ’n besluit om te vervolg kon maak op die beskikbare bewyse nie en ’n geregtelike doodsondersoek aanbeveel het.”

AfriForum het hierdie misbruik van die regstelsel aan die lig gebring tydens die geregtelike doodsondersoekverrigtinge en die hof het op adv. Nel se advies geweier om met dié ondersoek voort te gaan. “Die enigste haalbare afleiding is dat die NVG ’n vervolging wou vermy. Ons verwelkom die huidige stappe en hoop dat die NVG met ywer die proses verder sal voer. AfriForum se privaatvervolgingseenheid en die familie van die oorledene sal die proses noukeurig moniteer.”

  • Vorige mediaverklarings oor die saak:
  1. https://afriforum.co.za/moordsaak-van-voormalige-rwandese-intelligensiehoof-na-nvg-terugverwys/
  2. https://afriforum.co.za/voormalige-rwandese-intelligensiehoof-se-moordenaars-kan-nou-vervolg-word/
  3. https://afriforum.co.za/afriforum-behaal-oorwinning-hof-geregtelike-doodsondersoek-na-rwandese-intelligensiehoof-moet-gestaak-word/

Soortgelyke plasings