Appèlhofdatum vas vir geveg oor skaliegasregulasies


AfriForum gaan die ministers van minerale hulpbronne en omgewingsake op 16 Mei 2019 in die appèlhof pak oor hidrobrekingregulasies.

Die hof sal AfriForum en Treasure the Karoo Action Group (TKAG), gesamentlik bekend as “die Alliansie”, se aansoek teen die ministers aanhoor vir die tersydestelling van die regulasies oor petroleumeksplorasie en ‑produksie soos afgekondig in 2015 wat voorsiening maak vir hidrobreking in Suid-Afrika.

“Die Alliansie hou vol dat die regulasies op verskeie gronde onwettig is. Daar is tans teenstrydige uitsprake van die Oos-Kaapse hoë hof en die Noord-Gautengse hoë hof oor die wettigheid van hierdie regulasies. Die appèl gaan dus regsekerheid bied oor die regulasies,” sê Morné Mostert, AfriForum se hoof van omgewingsake.

Die Alliansie se hidrobrekingveldtog is in 2011 van stapel gestuur en hulle het verskeie aksies geloods. Jonathan Deal, uitvoerende hoof van TKAG, sê die staat moenie kortsigtige besluite neem nie en moet alle risiko’s van skaliegasontginning oorweeg. “Ons het in die res van die wêreld gesien wat die langdurige impak van skaliegasontginning is. Ander lande, soos Amerika, het die voordeel dat baie water vir hierdie tipe mynbedrywighede beskikbaar is. Suid-Afrika het net nie genoegsame hulpbronne om hierdie bedryf te kan hanteer nie – water is nie ’n hulpbron waarmee ons kan mors nie.”
Shell het reeds sy hidrobrekingplanne in die Karoo afgeskaal weens volgehoue druk deur die Alliansie en gemeenskapsorganisasies. Mostert sê hierdie druk is nodig sodat die staat nie net blindelings kan voortgaan met hidrobreking in Suid-Afrika nie.

“Die departement het nie tans die vermoë om te verseker dat gewone mynboupraktyke binne die regulasies funksioneer nie. Die regulasies is gebrekkig – nie net omdat die minister nie die magtiging gehad het om die regulasies uit te reik nie, maar ook omdat dit misluk in sy doelwit om die omgewing te beskerm,” sluit Mostert af.

Soortgelyke plasings