|

Appèlhof sê nee vir slegs Engels by Unisa

Die Hoogste Hof van Appèl in Bloemfontein se beslissing ten gunste van AfriForum se saak vir die behoud van Afrikaans as volwaardige onderrigtaal by die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa), is ’n reuse-oorwinning vir Afrikaans, Afrikaanse studente en ook vir taalregte in die land.

Só sê Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum.

Die hof het bevind Unisa se huidige taalbeleid, wat slegs vir Engels as primêre medium van onderrig voorsiening maak, is ongrondwetlik en onregmatig. Die hof het verder gelas dat die universiteit prominent kennisgewings in drie Afrikaanse koerante en op hulle eie webwerf moet aanbring om die uitspraak onder die studente en publiek se aandag te bring en ook ’n volledige lys moet insluit van alle modules wat tot met die aanvaarding van die huidige beleid in April 2016 in Afrikaans aangebied is, sodat voornemende studente wat daarvoor wil inskryf, die vakke nou weer van eerstejaarsvlak af kan neem. Dié vakke moet nou weer volledig in alle akademiese jare in Afrikaans aangebied word.

Die Hoogste Hof van Appèl se beslissing kom na ’n uitspraak wat in April 2018 in die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria gelewer is.

Appèlregter Mandisa Maya, president van die Hoogste Hof van Appèl, het dié bevel tersyde gestel en só ook die besluite van die raad en senaat van Unisa om ’n nuwe taalbeleid in 2016 goed te keur.

Volgens Maya was die besluit om Afrikaans as onderrigtaal uit die nuwe taalbeleid te verwyder onregmatig en ongrondwetlik.

Volgens Bailey is die uitspraak, ná ’n stryd van amper vyf jaar, nie net van reuse belang vir alle Afrikaanse studente in die land nie, maar ook vir die toekoms van Afrikaans as hoëfunksietaal.

“Die feit dat die Hoogste Hof van Appèl hierdie uitspraak gelewer het, is van groot belang – dit is die hoogste hof wat nog ten gunste van Afrikaanse onderrig op tersiêre vlak uitspraak gelewer het en dat ’n kostebevel boonop ook teen Unisa gelewer is, bewys die morele hoëgrond van studente wat hulle reg tot onderrig in hulle moedertaal opeis.

“Dit is belangrik dat uiteindelik erken word dat toegang tot tersiêre studie uitgebrei moet word om nie net ruimte vir eerstetaal Engelssprekendes te skep nie, maar meer moedertale te akkommodeer. Onlangs het Unisa juis weer Afrikaans uitgesluit uit planne om personeel en studente aan te moedig om meer tale te bemeester. Die uitspraak beklemtoon dat Afrikaans ook ’n plek op staatsondersteunde kampusse het,” sê Bailey.

Appèlregters Xola Petse, Eric Leach, P. Koen en Jannie Eksteen het met Maya se uitspraak saamgestem.

Unisa het na raming meer as 20 000 Afrikaanssprekende studente.

Die Universiteit bestudeer nog die uitspraak en sal later kommentaar daarop lewer.

Soortgelyke plasings