#AnkerdorpPadskou-veldtog in Secunda sluit af

Die burgerregteorganisasie AfriForum se #AnkerdorpPadskou-veldtog in Secunda het ná ’n aktiewe maand se betrokkenheid in dié dorp afgesluit.

Om veiligheid te verbeter het die Secunda-buurtwag vir die bejaardes van Davieshof ’n WhatsApp- en Zello-groep gestig (waarvan die buurtwag ook deel is), asook koördineerders aangewys wat hulle tydens noodgevalle sal bystaan. Dié koördineerders sal glimbaadjies ontvang en die buurtwag sal die noodplan saam met die inwoners inoefen. Die Secunda-tak is baie betrokke by dié tehuis en help dikwels met herstelwerk van die eenhede.

Verder het die tak amberbome, Vanwykshoutbome en witstinkhoutbome by verskeie skole in die dorp en omliggende gebiede geplant, waaronder Laerskool Secunda, Hoërskool Secunda, Hoërskool Oosterland, Laerskool Trichardt, Laerskool T.P. Stratten, Hoërskool Evander, Laerskool Oranjegloed, Laerskool Kruinpark, Laerskool Goedehoop, Curro Skool Secunda, Highveldpark High School en Highveldridge Primary School.

“Ons wil vir AfriForum baie dankie sê vir hulle inisiatief en betrokkenheid in ons gemeenskap – ons sien die projekte raak waarmee AfriForum van Secunda ’n pragtige plek maak,” sê Barnie Botha, hoof van die Laerskool Kruinpark.

Die tak het ook bederfpakkies vir leerders van die Marietjie Skool vir Gestremdes gaan uitdeel en is met groot geesdrif en dankbaarheid ontvang.

Die tak en buurtwag het later die maand aan ’n skoonmaakaksie deelgeneem, waartydens die groen strook oorkant die klein Pick n Pay skoongemaak is. Heelwat vragte rommel is uiteindelik verwyder.

“Ons is nie net in Secunda om gesien te word nie, ons is ook daar om ’n diens aan die gemeenskap te lewer,” sê Jan du Plessis, voorsitter van AfriForum se Secunda-tak.

Kyk hier na die oorsig van Oktober se #AnkerdorpPadskou-veldtog:
https://afriforum.co.za/gemeenskap-sit-hand-by-tydens-ankerdorppadskou-in-secunda/

 

Soortgelyke plasings