#AnkerdorpPadskou: Teenboelieveldtogspan en Matteus besoek laerskole in Oudtshoorn


Die burgerregte-organisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan en Matteus het op 28 Mei 2019 by Bergsig Primêr, Colridge Primêr, De Villiers Primêr, Saturnus Primêr en Sacred Heart Primêr in Oudtshoorn besoek afgelê tydens die #AnkerdorpPadskou wat in George gehou is . Die veldtog was ook goed gepas omdat dit met Nasionale Kinderbeskermingsweek ooreengestem het. Die teenboelieveldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in, asook hoe hulle hulself op die skoolterrein kan beveilig.

Dit is vir AfriForum belangrik om saam met skole te werk om ’n verskil te maak om afknouery in skole hok te slaan. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word met die kennis toegerus om afknouery te stop.

“Dit is vir ons belangrik dat leerders die verskil tussen konflik en boeliegedrag verstaan, asook om ingelig te wees oor wat hulle moet doen as hulle hulself in ’n boelievoorval bevind. Die doel van hierdie veldtog is om leerders bewus te maak dat hulle moet opstaan as leiers deur ‘nee’ te sê vir enige vorm van boeliegedrag, om op te staan vir wat reg is en om ’n verskil in hul skool en gemeenskap te maak. Dit was vir ons lekker om gelyktydig met vier skole by die Bridgton Congregational Church in Oudtshoorn te gesels en toe later met Colridge Primêr in hul skoolsaal. Dit is ook goed om te sien dat gemeenskappe saam teen boeliegedrag staan,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se koördineerder vir leierskapsontwikkeling.
“Baie dankie aan AfriForum vir die aanbieding vir die skole in Oudtshoorn. Dit was prakties, treffend en die kinders se aandag is deurgaans behou. Dit is so belangrik dat daar gebou word aan die waardes van kinders en dat hulle terwyl hulle jonk is, sal leer om reg teenoor hul medemens op te tree. Ons waardeer AfriForum se betrokkenheid en sien daarna uit om weer saam met hulle te werk. AfriForum se teenboelieveldtogspan is skitterende sterre in ons kinders se lewens; gaan voort met jul goeie werk,” sê Wilma Espach, maatskaplike werker van die Wes-Kaapse onderwysdepartement.
“Programme om die kinders te leer om in vrede met hul naaste te leef, word verwelkom. Dit wat kinders leer wanneer hulle nog jonk is, bly hulle vir lank by. Swak rolmodelle dra daartoe by dat kinders die verkeerde waardes as die norm aanvaar. Ek waardeer die rol wat AfriForum speel in die bekamping van afknouery en leiding in die teenboelieprogram. Daar is nie ’n ander manier om kinders Christelike waardes te leer en om goeie burgers van hulle te maak en hulle te leer om ander mense met respek te behandel nie. Ek dink die boodskap was eenvoudig en duidelik sodat elke kind dit kon verstaan,” sê Brandon Griffin, waarnemende skoolhoof van Bergsig Primêr.
“Die program wat die span van AfriForum aangebied het, was baie insiggewend en leersaam vir ons leerders. Bewusmaking van boeliegedrag is baie nodig in ons skole en met die Christelike aspek wat aan die program gekoppel is, is dit ’n fantastiese program met ’n goeie boodskap. Ek glo ons leerders het dit vreeslik geniet en baie waarde daaruit geput. Ek glo verder dat hulle ná hierdie sessie met nuwe oë na die hantering van boeliegedrag sal kyk. Die onderwysers het ook positief op die program gereageer aangesien heelwat van hul leerders daagliks daaraan blootgestel word, nie net by die skool nie, maar ook in die gemeenskappe waarin hulle woon,” sê Peter Adams, hoof van Colridge Primêr.
“Ons skool het dit nodig gevind dat daar oor boeliegedrag gepraat moet word, aangesien dit ’n algemene verskynsel in ons skole is. Leerders besef nie altyd dat dit wat hulle doen verkeerd is nie. Die program was op die vlak van die leerders en die inhoud was maklik om te verstaan. Die Christelike aanslag was ook positief,” meen Cheryl Butler, adjunkhoof van De Villiers Primêr.
“Baie dankie vir ’n lekker praktiese aanbieding oor boeliegedrag. AfriForum se teenboelieveldtogspan se passie is duidelik waarneembaar deur die entoesiasme waarmee die aanbieding gedoen is. Mag AfriForum voortgaan om jongmense se lewens te verryk met vaardighede om boelie- en ander lewensuitdagings die hoof te bied,” sê Marisa Lindeque, maatskaplike werker van die Wes-Kaapse onderwysdepartement.
“Daar is vier dinge wat ons geleer/geniet het uit AfriForum se teenboelieprogram: Die program is geestelik en Bybels gebaseer en baie goed aangebied; die aanbieder het die program grafies voorgestel en die leerders kon die boodskap sien; dit was goed georganiseer en die leerders kon baie goeie lesse uit die program leer,” sê Mario Hilton Muller, hoof van Saturnus Primêr.
“AfriForum se teenboelieveldtogaanbieding was baie leersaam. Die leerders het dit baie geniet en die aanbieding was kort en kragtig genoeg om hul aandag te behou. Dit was goed om die aanbieding op ’n Christelike grondslag te bou,” meen Godfrey Hans McCallum, hoof van Sacred Heart Primêr.

Stuur ’n e-pos na leandie.brasler@afriforum.co.za as jou kind se skool by hierdie veldtog en leierskapsontwikkeling betrokke wil raak.

Soortgelyke plasings