#AnkerdorpPadskou: Rustenburg-tak vul slaggate (fase 2) en besoek munisipale woonstelle


AfriForum se Rustenburg-tak het op 16 Maart 2019 fase 2 van hul slaggatprojek afgeskop. Altesaam 500 sakkies teer — ongeveer 12,5 ton — is aangekoop en gebruik.

“Ons kan nie meer op die munisipaliteit wag of staatmaak om die paaie vir ons te herstel nie. Ons as die gemeenskap moet self inspring en die paaie herstel waar ons kan,” sê Sampie Steinberg, assistentkoördineerder in Marico.

Terwyl die paaie herstel is, het van die vrywilligers by die W.A. van Zyl-saal, reg langs die munisipale woonstelle in Kremetartlaan, opgedaag waar die tak ’n klein partytjie vir die bejaarde inwoners gehou het. Die woonstelle se geisers is ook herstel om te verseker dat die bejaardes warm water het.

“Om die bejaardes gelukkig en met glimlagte te sien, was baie spesiaal en hartverblydend. Sommige van hierdie bejaardes sit al ’n geruime tyd sonder warm water. Ons beplan om ’n volhoubare projek op die been te bring om hulle te help,” sê Steinberg.
“Ons wil van die Rustenburg-takbestuur se kant af elke vrywilliger wat hul Saterdag opgeoffer het, bedank vir hul harde werk,” sluit Steinberg af.

AfriForum moedig gemeenskapslede aan om betrokke te raak by die #AnkerdorpPadskou. Vir meer inligting besoek gerus die webtuiste by www.ankerdorp.co.za.

Soortgelyke plasings