#AnkerdorpPadskou: Rustenburg-tak sny gras; besoek munisipale woonstelle


AfriForum se Rustenburg-tak het op 18 Maart die gras in Kremetartlaan langs die spruit as die tweede fase van hul skoonmaakaksie korter gesny.

“Ons het die lang gras by die spruit korter gesny aangesien dit ’n maklike skuiling vir boosdoeners en misdadigers is. Só het ons die gemeenskap se veiligheid verseker. Ons wil hierdie skoonmaakaksies graag ’n volhoubare projek vir Rustenburg maak,” sê Sampie Steinberg, assistentkoördineerder vir Marico.

Die tak het ook op Saterdag 23 Maart vir die inwoners van die munisipale woonstelle in Kerkstraat partytjie gehou en herstelwerk aan die woonstelle gedoen.

“Dit was vir ons as bestuur ’n groot skok om te hoor dat party van die bejaardes al vir vyf jaar sonder warm water is. Ons het besluit om hierdie probleem op te los en gehelp waar ons kan. Saterdag was ’n groot fees vir die bejaardes. Ons het gereël dat ’n orkes vir die bejaardes speel, wat hulle terdeë geniet het. Ons het hulle ook met eet- en drinkgoed bedien om hul dag verder op te kikker. Ons is besig om borge te kry om die bejaardes verder te help,” sluit Steinberg af.

AfriForum moedig gemeenskapslede aan om by die #AnkerdorpPadskou betrokke te raak. Besoek www.ankerdorp.co.za vir meer inligting oor die #AnkerdorpPadskou.

Soortgelyke plasings