#AnkerdorpPadskou: AfriForum-teenboelieveldtogspan besoek Laerskool Rustenburg en Laerskool Vastrap


Die burgerregte-organisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 4 Maart 2019 by Laerskool Rustenburg en Laerskool Vastrap in Rustenburg besoek afgelê as deel van AfriForum se #AnkerdorpPadskou. Die teenboelieveldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in. AfriForum werk graag met rolspelers saam om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word toegerus met die kennis om afknouery te ontmoedig.

“Dit is vir ons belangrik dat leerders die verskil tussen konflik en afknouery verstaan en ingelig is oor wat hulle moet doen as hulle hulself in ’n afknouvoorval bevind. Elke leerder het ’n Matteus-plakker ontvang wat #StaanOpTeenBoelies en #SkepSaamHoop aandui. Ons wil hê dat ons land se skole vry, veilig en voorspoedig moet wees,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se koördineerder vir leierskapsontwikkeling.
“By Laerskool Rustenburg koester ons elke leerder en duld ons nie boelies nie. Ons afknoubewusmaking strek van ’n teenboelieposbus waar leerders hul harte kan uitstort tot teenboeliekrete, -slagspreuke en -bewusmakingsveldtogte, waarvan die AfriForum-besoek beslis een van die hoogtepunte was,” sê René Schoombee, bemarker by Laerskool Rustenburg.
“Dit is belangrik dat ons ons waardes en missie by Laerskool Vastrap uitleef, veral as dit by afknougedrag kom. Ons moedig ook graag ouer- en gemeenskapsbetrokkenheid by die skool aan sodat almal mede-eienaarskap het. Ons wil ’n leervriendelike en kreatiewe omgewing en atmosfeer skep, waar elkeen gelukkig en veilig kan voel,” sê Dan Whitehorn, visehoof van spesiale dienste by Laerskool Vastrap.

Stuur ’n e-pos na leandie.brasler@afriforum.co.za as jou kind se skool by hierdie veldtog en leierskapsontwikkeling betrokke wil raak.

Soortgelyke plasings