#AnkerdorpPadskou: AfriForum skerp padveiligheid in Waverley op


Die AfriForum-tak in Waverley het op Woensdag 27 Februarie onduidelike en afgeskilferde padtekens rondom skole oorgeverf. Dié aksie vorm deel van AfriForum se #AnkerdorpPadskou, wat geloods is om ons dorpe en gebiede op te knap.

AfriForum het saam met die gemeenskap al die padtekens – wat hoofsaaklik stopstrate insluit – rondom Hoërskool Oos-Moot en Laerskool Wonderboom-Suid oorgeverf. Verkeersirkels en spoedhobbels in Codonialaan is ook oorgeverf.
Sowat 50 vrywilligers was by die projek betrokke, wat onder leiding van ’n kontrakteur gestaan het wat deur AfriForum se Waverley-tak aangestel is. “Ons is bly om te sien dat die gemeenskap saamstaan oor sake wat hulle kwel en self inspring om te help,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord.

“Dit is noodsaaklik om padtekens ter wille van motoriste en leerders se veiligheid op te knap. Hoewel ons reeds 15 stopstrate oorgeverf het, is ons besorgd oor die algemene gebrek aan stopstrate in Waverley. Ons vermaan dus die munisipaliteit om AfriForum te help om dié padtekens te verf. AfriForum sal egter met die projek voortgaan om te verseker dat Waverley se paaie veilig is vir almal,” sluit Grobbelaar af.

AfriForum moedig gemeenskapslede aan om betrokke te raak by inisiatiewe wat na hul behoeftes omsien. Besoek gerus die webtuiste by www.ankerdorp.co.za vir meer inligting oor die #AnkerdorpPadskou.

Soortgelyke plasings