#AnkerdorpPadskou: AfriForum se Nelspruit-tak stuur verskeie aksies van stapel


AfriForum se #AnkerdorpPadskou het op 31 Mei 2019 in Nelspruit begin en die Nelspruit-tak het reeds verskeie selfdoen- en skoonmaakaksies in Nelspruit aangepak.

Die padskou is met veiligheidsoudits by skole in Nelspruit begin. Dié oudit word by skole gedoen om die veiligheid van onderwysers en leerders te verseker en om seker te maak die skool het ontruimingsprosedures en noodplanne. ’n Terreininspeksie word ook tydens die oudit gedoen om swakpunte op die terrein aan die skoolbestuur uit te wys.

“Hierdie oudits is baie belangrik en verseker dat leerders en onderwysers veilig is en dat skole voorbereid is vir enige situasie,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se veiligheidshoof vir die noordstreek.

Bemarkingsitems is verder aan inwoners uitgedeel en inwoners staan tydens die #AnkerdorpPadskou ’n kans om lugtyd en ander pryse te wen terwyl een gelukkige inwoner ’n vakansie kan wen.
Skoonmaakaksies langs die R40-hoofweg is van stapel gestuur en heelwat vullis is op die skouer van die pad en langs die pad verwyder. Tydens die aksies is daar gevind dat meer vullisdromme langs dié roete benodig word en AfriForum sal daarom ook binnekort nog dromme aanbring.

“Vullis wat langs die hoofweë in Nelspruit voorkom is ’n groot probleem en die taklede spring self in om skoon te maak. Die oprigting van bykomende vullisdromme sal die probleem verminder en ’n skoner dorp vir almal verseker,” sê Devon McCullough, voorsitter van AfriForum se Nelspruit-tak.

AfriForum-taklede, lede van die gemeenskap, van die Voortrekkers in Nelspruit en onderwysers van Pro Gratia het op Saterdag 8 Junie ’n selfdoenaksie by dié skool buite die dorp voltooi. Die jeugvleuel van die Nelspruit-tak het die houtklaskamers met vernis behandel terwyl daar in die skool se tuine gewerskaf is. Die voorbrandbane om die skool is ook tydens die aksie skoon gesny. Mbombela Air Conditioning het tydens die aksie hand bygesit en het die lugversorgers van die skool kosteloos herstel.
Verskeie patrollies is reeds saam met Nelspruit Concerned Citizens (NCC) in die dorp gehou waartydens patrollielede by verskeie noodgevalle hulp verleen het. Hierdie inisiatief sal regdeur die maand plaasvind en daar sal tydens Innibos gereeld gepatrolleer word om feesgangers se veiligheid te verseker.

“Die #AnkerdorpPadskou is hier om Nelspruiters hoop te gee. Deur self in te spring en moue op te rol, vat gemeenskappe eienaarskap van hul probleme en skep hoop vir almal,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld.

Indien jy deel wil wees van die #AnkerdorpPadskou besoek www.ankerdorp.co.za.

Soortgelyke plasings