|

Anderkant trauma

Deur Johan Kloppers

Trauma wat oor jou pad kom is ’n gebeurtenis wat ’n mens nie sommer vergeet nie en in die meeste gevalle gaan ’n persoon moet leer om ’n nuwe pad te stap‚ op ’n nuwe manier te dink en as ‘t ware opnuut leer loop.

Enige gebeurtenis wat jou oorweldig, alleen en bevrees laat voel, is ’n traumatiese ervaring en dit hoef nie altyd met ’n fisieke gebeurtenis verband te hou nie. Dit gaan meer oor die impak wat so ’n gebeurtenis op jou as mens het en ook hoe jy daarna vorentoe beweeg.

Trauma en iets soos die seer ná die dood van geliefdes, gaan lê diep in elke mens – dit is soos ’n seer tand wat jy probeer mis borsel, maar elke kort-kort vergeet jy en dan is die pyn weer daar. ’n Mens se lewe verander in ’n oogwink onherroeplik en elke mens hanteer trauma op ’n ander manier. Die hoeveelheid tyd wat elkeen nodig het om die trauma te verwerk, verskil ook.

Alles neem tyd, maar tyd het ook tyd nodig

Wanneer ’n persoon emosionele seer ervaar, hetsy as gevolg van verlies of enige ander traumatiese gebeurtenis, gaan jy met verloop van tyd vorentoe kan beweeg en dit mag dalk voorkom asof jy “daaroor gekom het” maar die feit is egter dat jy net saam met jou seer vorentoe beweeg.

Dit is ook belangrik om te onthou dat jou liggaam boekhou van die seer – al dink ’n mens jy het die trauma reeds verwerk of probeer verwerk.

Die rede waarom dit moeilik is om trauma te hanteer, minder daaraan te dink of te probeer vergeet en waarom jy steeds die emosies en liggaamlike sensasies ervaar, is omdat dit ’n kognitiewe, emosionele en sensoriese impak op jou het.

Die feit dat iemand traumatiese gebeure oorleef het, maak nie van so ’n persoon ’n oorwinnaar nie. ’n Trauma-oorwinnaar is nie iemand wat voorgee deur vals glimlagte of ’n kastige te besige program nie, maar iemand wat weer honderd persent normaal kan dink, leef, lag en liefhê. Nadat so iets gebeur het moet ’n mens besluit of jy net gaan asemhaal en of jy gaan leef.

Daar is soveel emosie wanneer ’n persoon se geliefde weens ’n moord sterf, wanneer iemand gestremd agtergelaat is, wanneer verkragting plaasgevind het, of enige ander verliese wat gely is weens ’n misdaad.

Soveel word van jou weggeneem en soveel ongevraagde en negatiewe dinge word by jou lewe toegevoeg. ’n Mens se lewe verander onherroeplik.

Elkeen moet die geleentheid gegun word om op sy of haar eie tyd en manier deur die fases van trauma te werk. Emosionele ondersteuning bly egter van uiterste belang vir iemand wat deur misdaaad geaffekteer is terwyl die persoon se lewe oënskynlik weer na “normaal” begin terugkeer.

Wanneer ’n persoon by die fase van aanvaarding kan uitkom – wat weer eens verskil van persoon tot persoon – is dit ’n punt waar hulle besluit om aan te gaan met hulle lewens, en die gedeelte van hulle lewe wat nog voorlê voluit te leef. Hulle sien weer kans vir verantwoordelikhede en begin weer met mense kommunikeer. Hulle visie wat tot onlangs net op hul eie wêreld gerig was, verander ook om ander in ag te begin neem en ook iets vir ander te probeer beteken.

Hoe lank is normaal vir ’n rouproses?

Die antwoord op dié vraag is onmoontlik om vas te stel, net soos die voorspelbaarheid van iemand se reaksie op die aanhoor van ’n geliefde se dood.

Elke mens hanteer dit anders, en elke persoon sal op ’n unieke manier deur die proses gaan. Gewoonlik moet die persoon eers deur die gevreesde eerste jaar van herdenkings gaan. Dit is die eerste verjaardag waar die persoon nie by is nie, die eerste Kersfees sonder ’n geliefde, die eerste herdenking van ’n huwelik of sterfdatum, en so meer.

Daar word algemeen aanvaar dat ’n gemiddelde rouproses sowat twee jaar neem. Wees geduldig met jouself, en weet dat party dae baie moeiliker gaan wees as ander. Een dag mag jy dalk beter voel, net om die volgende dag wakker te word en weer totaal platgeslaan te voel. Dit maak jou nie abnormaal nie, maar dit maak van jou net ’n gewone mens.

Geen deel van jou trauma en/of verlies is ’n keuse nie – ons het nie beheer daaroor nie. Daar gaan verlange wees en dit is nie moontlik om die verlede te verander nie. Al waaroor jy beheer het, is die hier en nou. Dit is so belangrik dat jy weet dit wat was (gister) is weg, dit wat is (nou en hier), is kosbaar en dit wat wag (môre) kan nie beheer word nie. Wees wie jy is, voel hoe jy voel, doen soos jy goeddink en wees net jou unieke self.

Johan Kloppers is ’n slagofferondersteuningsbeampte by AfriForum se Trauma-ondersteuningseenheid.

Soortgelyke plasings