|

ANC se voortgesette druk vir onteiening van privaat eiendom sal almal benadeel

AfriForum bestempel die ANC se stelling dat onteiening sonder vergoeding weer ondersoek moet word as ’n blinde najaag van ideologiese denke wat tot nadeel van die samelewing in geheel sal wees.

Die burgerregteorganisasie is reeds besig om in samewerking met verskeie kundiges ’n omvattende plan vir herstel – wat onder meer op die ekonomie fokus – op te stel wat eersdaags aan die regering oorhandig sal word.

Die COVID-19-pandemie en die ANC-regering se irrasionele inperkingsregulasies het ’n reuse- negatiewe impak op die land gehad. Wat Suid-Afrika nou meer as enige iets benodig, is verantwoordelike optrede wat ekonomiese groei sal stimuleer om die privaat sektor toe te laat om die skade te herstel. Dit vereis in die eerste plek groter sekerheid oor eiendomsreg en tweedens ’n regulatoriese raamwerk waarin entrepreneurskap met opbrengste beloon word, in plaas daarvan om deur die staat geteiken te word.

“Ervaring het gewys dat kaders en politieke vriende van die regerende party die enigstes is wat uit beleidsidees soos onteiening sonder vergoeding baat – en selfs vir hulle is die voordeel bloot tydelik omdat die regering se vriende nie van ekonomiese inkrimping geïsoleer is nie,” sê Ernst Roets, hoof van Beleid en Aksie by AfriForum.

 

Soortgelyke plasings